Sirkel: SWD

Tak: Heidelbeg

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Driekie Uys

Datum:16 Mei 2017

 

 

 

Heidelberg VLV het aan die voet van die Langeberge op ‘n baie mooi sonskyndag Swellendam besoek. Rooiklipkwekery is in Voortrekstraat, teen ‘n helling. Jaap Voster kweek onder andere aalwyne, vetplante en broodbome. Dit is ‘n pragtige kwekery met ten minste drie kweekhuise. Die vetplantkweekhuis se plante is pragtig uitgestal en toeganklik sodat alles bereikbaar is.

 

Deel van die vetplantkwekery.

 

Ons drink tee by Bella Donna’s Nursery waar Mnr. Gagiano die lede interessante feite in verband met tuinontwerp asook die spekboom meedeel. Hy sien baie hoe jong tuiniers die mooiste plante uitsoek om te plant. Hy beveel aan dat jy moet weet hoe jou grondsamestelling is asook jou watervoorsiening. Eerstens moet jy ‘n boom plant wat later koelte gee waaronder jy dan verder plante kan plant. Hy het vertel watter wonderlike plant die spekboom is en hoeveel medisinale voordele dit het. Die blare kan in kos gebruik word. Die spekboom word in sommige dele die olifantboom genoem waar olifante dit eet en soortvan verniel en as gevolg daarvan vermeeder die plant maklik. Elkeen van ons behoort ten minste een in ons tuin aan te plant al bly jy in die stad. Die spekboom het die vermoë om koolsuurgas in suurstof om te sit.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Heidelberg-lede wat die uitstappie meegemaak het.

 

 

 

 

 

 

Om terug te stap in tyd deur ‘n besoek aan die oudste opstalle op die tweede oudste dorp in die land, Die Drostdy, laat sommiges nostalgies verlang na ‘n stadiger lewe. Die oorspronklike Drostdy is deur die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie in 1747 as woning en kantore vir die landdros van Swellendag gebou. In 1813 is dit vergroot tot die huidige voorkoms. Onder Britse goewernantskap is die Drostdy deur die resident-magistraat tot 1846 bewoon waarna dit verkoop is. Die Drostdy Museum is 1947 amptelik geopen en huisves ‘n puik versameling laat 18e en vroeg 19e eeuse Kaapse meubels.

 

Die Drostdy opstal

 

Oorkant die pad is die Ou Tronk en Ambagswerf. Die ambagswerf is in die sewentigerjare opgerig. Die verskillende ambagte word baie goed uitgestal. In die Ou Tronk is daar ‘n sel waar vrouens aangehou is. Dit is pikdonker as die deur toegemaak word. Hier is vrouens aangehou wat nie met die kats geslaan is nie.

 

Na ‘n heerlike middagete is ons na die derde opstal wat deel uitmaak van die Drostdy Museum. Mayville is rondom 1855 gebou en weerspieël ‘n oorgangstydperk in boustyle tussen Kaap-Hollands en Georgiaans. Hierdie is ‘n besonderse toegeruste woonhuis om te besoek. ‘n Mens kan die leefstyl uit daardie tydperk ervaar met ‘n besoek aan die huis.

 

Mayville

 

Ons het ook by die Simply Bee winkel ingeloer waar byeprodukte verkoop word. As jy ‘n byeboerdery wil begin, kan jy jou toerusting hier aankoop. Kosmetiese produkte waar heuning en was ‘n belangrike bestanddeel is, is te koop. Verskeie heuningsoorte kan geproe word, voor jy aankoop. In die agterste deel van die winkel, is ‘n byekorf agter glas om te sien hoe die bye te werk gaan.