Sirkel: Paarl

Tak: Malmesbury

Studierigting: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Mia Louw

Datum: 10 Mei 2017

 

Olieverf in al sy vorme en enigeen kan dit bemeester. Dit is die boodskap wat Adele van Niekerk vir Malmesbury VLV kom wys maak het.

 

Adele gee al vir jare kunsklasse in Durbanville en het onlangs begin met klasse in Malmesbury. Sy het ons VLV lede en talle besoekers deur al die benodighede, style en tegnieke van olieverf en akrielverf geneem, en voorbeelde van alles byderhand gehad.

 

Adele se kunsreis het begin met lapverf en sy het mettertyd begin klasgee. Sy sê die beste manier om iets te leer –is om dit vir ander mense te leer!

 

‘n Paar wenke: sorg altyd om ‘n handdoek op jou skoot of naby te hê. Verf altyd op ‘n esel, nooit plat op ‘n tafel nie, want die kunswerk gaan eendag op ‘n muur hang en nie plat lê nie. Vir ‘n palet kan jy enigiets gebruik wat nie verf absorbeer nie, hout, plastiek, klip, glas. Goeie kwaste is ‘n goeie belegging, jy kan dit lank gebruik, maak dit net goed skoon.

 

Foto vlnr: Joey Koen van Porterville (kuns-student), Natasha de Jager (kuns-student van Malmesbury), Adele van Niekerk (spreker), Mia Louw, Voorsitter Malmesbury VLV. Adele hou haar olieskildery vas.

 

Adele verkies om ‘n “underpainting” te doen in akrielverf, dit is goedkoper, word vining droog en kan makliker foute regmaak. Hier was jy jou kwaste met water.

 

Daarna kan jy olieverf gebruik, dit neem omtrent 3 dae om droog te word en dis moeilik om foute reg te maak.

 

Vir ‘n growwe tekstuur kan jy ‘n verfmes gebruik in plaas van kwaste, jy kan baie kreatief raak met strepe en lyne in die olieverf te trek met die mes.

 

Ons is ook voorbeelde gewys van al die verskillende style, Realisties, Impresionisties, Abstrak, Monochroom. Daar is ook keuses tussen landskappe, portrette, figure en stillewes.

 

Dit is werklik vir enige kunstenaar ‘n uitdaging om haar eie styl te ontwikkel. Probeer ‘n kunsklas en ontmoet nuwe vriende, jy kan ook ‘n skildery skep wat ‘n meesterstuk is in jou oë!