Sirkel: Noordwes-Kaap

Tak: Prieska

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Erika Lubbe

Vergaderingdatum: 10 Mei 2017

 

Die besondere vergadering met die tema, In her shoes, is aangebied deur die Saamroeper van Openbare Sake, Nadia Muller. Sy het bykans alles by die tema laat aanpas deurdat die lede skoene moes aantrek vergadering toe wat half vergete in hul kas weggebêre is. Hierdie verskeidenheid skoene, wat van pantoffels tot balletskoene was, het groot vermaak verskaf. Party het tandeknersend die middag om geworstel met skoene wat na al die jare se voetveroudering, plooie en knoppe op snaakse plekke nie meer so goed gepas het nie. Een ding is seker: ’n deurwinterde VLV-lid kan, as dit moet, haar ‘pose’ hou…….

 

 

 

 

 

Erika Lubbe, VLVK-argivaris, en haar skoene het voorwaar al beter dae geken……

 

 

 

 

 

 

 

 

Die eetbare pienk hoëhakskoentjies was amper te mooi om te eet. As jy jouself eers sover kon kry om dit te eet, het jy besef Nadia is ’n baasbakster, want so pikant en kreatief dit uiterlik was net so perfek het dit ‘innerlik’ aan al die vereistes van ’n cup cake voldoen!

 

 

 

 

Eetbare skoentjies gemaak deur Nadia Muller, Saamroeper van Openbare Sake

 

 

 

 Skoentjies oral op die tafel om te pas by die vergadering se tema: “In her
shoes”

Die spreker, Ronelle, het daarin geslaag om een en almal in ander vroue regoor die wêreld se skoene te probeer plaas met Heb. 13:3 –  Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is en die wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

 

V.l.n.r.: Spreker, Ronelle, en Nadia, Saamroeper van Openbare Sake

 

Sy het onomwonde daarin geslaag om ons almal met dankbare harte huis toe te stuur met dié wete dat ons gemaklik in ons ‘skoene’ is, want ons word/is nie vervolg nie, ons word/is nie gemartel nie, ons word/is nie mishandel nie en ons word/is ook nie ontvoer en verkrag soos baie van ons ‘susters’ nie! Ook het sy die begeerte in ons harte geplaas om daagliks vir hierdie ‘susters’ van ons te bid!

 

VLV Prieska se trots – die Konferensiepryswenners!

V.l.n.r.: Corrie Liebenberg, Takvoorsitter, ’n derde prys met haar breipenhouer;  Lulu van Wyk, Taksekretaris, derde prys met haar fudge; Thereza Swart wat met haar broodrolletjies en haar outydse soetkoekies eerste pryse behaal het. Karen Greyling, Taktesourier, wat met 80% ’n 4de plek met haar druiwekonfyt losgeslaan het!
 

 

V.l.n.r.: Landi de Beer, Visevoorsitter en Corrie Liebenberg, Voorsitter, was die wenners van die ysbreker wat aangebied is deur Anel Liebenberg. Hulle is ware leiers, want hulle het hul slag gewys deurdat hulle ten spyte van om te swaai, te loop, te wieg en op een been te staan ’n teelepel die langste op hul neus te balanseer.