Sirkel:  Weskus

Tak:  Porterville

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  Louwna Hoving, [email protected]

Datum:  4 Mei 2017

 

Definisie van arbeidsterapie:  Dit help volwassenes en kinders om onafhanklik deel te neem aan doelgerigte aktiwiteite in hul daaglikse lewe om funksioneel hul volle potensiaal te bereik.  ‘n Videovertoning wys hoe om normale daaglikse take soos tuinmaak, motorbestuur, aantrek, fietsry, kinderversorging, stap met ‘n hond, bespeel van ‘n instrument te bowe te kom ten spyte van gestremdheid en ‘n lewe op jou eie moontlik te maak met die woorde:  Ek kan.

 

Terapie is nodig vir kinders wat sukkel met spesifieke take soos lees, skryf, spelling, balans, bal vang, skoenveters vasmaak of bewingsprobleme het.  Evaluasie is die wegtrekpunt en elke individu verskil.   Verskillende boublokke word gebruik om probleme op te los, so word byvoor-beeld by bal vang na die volgende gekyk: oogopvolging, visuele aandag, maag­-, rug- en nekspiere, balans, posturele kontrole, hand-oog koördinasie, greepvorming, in-hand spier-sterkte, motoriese beplanningsvermoë.  Hoe jonger die kind, hoe groter is sy kapasiteit van leer.  Knipwerk is baie belangrik vir kinders.

 

By volwassenes tree beperking gewoonlik in as gevolg van siektetoestande, pyn, ouderdom of beserings.  Alternatiewe maniere of metodes moet dus aangeleer word om te rehabiliteer.  Deur ‘n demonstrasie word gewys hoe ‘n persoon wat deur beroerte verlam is aan die een kant, ‘n hemp sonder hulp kan aantrek.  Hulpmiddels soos ‘n braaitang om die hemp om die nek te kry of ‘n skuifspeldhakie om knope vas te kry, kan gebruik word.  Om ‘n langmouhemp aan te trek, word die mou eers van die binnekant van die mou opgerol om ‘n ring te vorm en dan is dit maklik om met die gesonde hand die lam hand in te kry.  Familie moet waak daarteen om te veel te doen, want hoe meer hulp aangebied word, hoe moeiliker is dit vir die pasiënt om onafhanklik te funksioneer.  Die familie se bystand is egter van groot hulp vir so ‘n persoon.

 

 

 

 

 

 

 

 

Nicole Mouton, arbeidsterapeut, verduidelik aan Nicolene van der Merwe hoe om ‘n hemp aan te trek as die een kant van jou liggaam verlam is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ouer persone kan ‘n voorkomende program volg om fisiese agteruitgang te stuit deur oefening elke dag, om die liggaam soepel te hou.  Die brein kan ook geoefen word met invul van blokkiesraaisels, suduko, kaartspel, lees, inkleur of hekel- en brei van ‘n patroon.  Dit dwing die brein om te konsentreer.  Die bespeel van ‘n musiekinstrument is soos vuurwerk vir die brein omdat dit stimuleer deur die note te lees, ritme te bepaal, vingers korrek te plaas en die regte sitposisie aan te moedig.  Dit is ook belangrik dat hulle betrokke raak by hul kleinkinders deur vertellings uit hul kinderjare se speletjies om hulle aandag weg te trek van elektroniese toerusting.  Kinders of kleinkinders moet geleer word hoe om ‘n kaalvoetkind te wees en weer soos van ouds te speel!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mary-Ann van Schalkwyk, voorsitter, verwelkom ‘n nuwe lid, Sandri van Zyl.

 

 

 

 

 Mary-Ann van Schalkwyk, voorsitter, oorhandig ‘n 55-jaar-kenteken aan Hester Louw.