Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 25 April 2017

 

                  AANPASBARE VROUE HET DRYFKRAG

Dit was die besef wat Irena Coetzee van Bonnievale gelaat het tydens haar optrede as gasspreker by VLV-Kleinmond se Openbare Sake-vergadering op 25 April. Sy het haar lewensreis van “vreugde, pyn en genade” en haar suksesse by gemeenskapsbetrokkenheid, met die gehoor gedeel.

 

Nadat sy in 1977 op 35-jarige ouderdom met borskanker gediagnoseer is, het sy besluit dat sy ‘n normale lewe gaan lei en haar ingestel om haar “weg te dink van haar omstandighede”. Sy het bv. voortgegaan met die brei van skooltruie op die masjien om haar voorgenome besoek aan die Passiespele te finansier, en die dokter verbaas met die ontwikkeling van die linkerarm se spiere! Met drie klein kindertjies tuis begin sy ‘n speelgroepie in Bonnievale wat uiteindelik uitgebrei is tot ‘n volwaardige pre-primêreskool – sy beskou dit as haar monument.

 

Verdere gesondheidsterugslae, soos sewe rugoperasies, sou ‘n mindere persoon in ‘n rystoel laat beland, maar Irena volg liewer die dokter se raad om fiets te ry vir die versterking van haar beenspiere. Die verskil is net, hy het bedoel sy moet binnenshuis ry en sy doen dit toe buitenshuis! Met haar man se konstante aanmoediging was die resultaat dat sy vyf maal die Argusfietsren voltooi het.

 

V.l.n.r. Jason Kamfer met sy skildery, dan Irena Coetzee (gasspreker) en dan Marita Grobler (saamroeper) en dan Cecile Jonkheid (voorsitter).

 

Intussen ontgin sy haar skildertalent en die Coetzees bou ‘n nuwe huis sodat sy ‘n tuisateljee kan hê. Daardeur kruis haar paaie met diè van die 15-jarige ongeletterde straatkind, Jason Kamfer wat betrokke raak by die crèche van die Bonnievale se gemeenskapsontwikkelingsprojek. Ten spyte van die afbrekende en gewelddadige omstandighede by sy ouerhuis het Jason drome gehad. Hy vertel aan die VLV-lede, hy het besef dat as hy sy doel wil bereik, hy hard moet werk. Vandag op ouderdom 19 kan hy lees en skryf en het hy ontpop in ‘n talentvolle skilder. Hy speel rolbal vir die Bolandspan en is op sy beurt weer betrokke by projekte in sy gemeenskap waar hy teruggee wat hy ontvang het. Sy droom is steeds om ‘n loods te word en hy neem ekstra wiskundeklasse onder andere om hom verder te bekwaam.

 

Hierdie twee mense se positiwiteit oor die lewe was ook vir die VLV-lede ‘n inspirasie en die aankondiging van die tak se winterprojek, die brei van beanies en mussies, is met entoesiasme ontvang. Annie Jooste het ‘n Mod Podge– demonstrasie gelewer en gewys hoe ‘n ou skinkbordjie weer ‘n nuwe baadjie kan kry. Nà die verdaging van die vergadering kon die lede en gaste hulleself gaan help by Openbare Sake se Herfstafel vol interessante kase, beskuitjies en ‘n verskeidenheid versnaperinge. Aanpasbare Vroue is nie vaal en vervelig nie!

 

 

 

 

 

 

 

Annie Jooste vernuwe ‘n skinkbordjie met lap en Mod Podge

 

 

 

 

 

 

Brenda Neethling (hulp-sekretaresse) by die kompetisies: tamatie-atjar, vleisbroodjie, gebreide kleutermussie en oorgetrekte houer.

 

Die wenrangskikking van Ria Coetzee: ‘n Paasrangskikking met eiers.

 

 Die verrassende herfstafel met die verskeidenheid versnaperinge.