Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Beriggewer:   Theresa Troskie

Datum: 19 April 2017

 

VLV  POTPOURRI-VERGADERING VOL INTERESSANTHEDE!

 

Op 19 April het die bestuur van die Murraysburg VLV ’n vergadering vol interessante en leersame verrassings aangebied.

 

Linda van den Berg, ’n verpleegkundige, het die Gesondheidsafdeling hanteer en ’n leersame aanbieding oor “Adrenalin Fatigue” oftewel Bynieruitputting gedoen.  Hierdie siektetoestand laat jou moeg, gedaan, lighoofdig, met swak konsentrasievermoë en ’n onnatuurlike lus vir soetigheid.  Dit gebeur a.g.v. aanhoudende, negatiewe, intellektuele stres wat nie deur bv. fisiese oefening afgewerk word nie.  Risiko’s vir die lyer is dat die moontlikheid van hart- en bloedvatsiektes verhoog word.

 

Depressie en ’n uitbrandingsgevoel is ook simptomaties hiervan.

 

Hoe word Bynieruitputting behandel?

  1. Oorweeg laboratoriumtoetse;
  2. Identifiseer chroniese stressors;
  3. Haal gereeld “bewustelik” asem;
  4. Joga;
  5. Probeer natuurlike medikasie;
  6. Slaap en ontspan genoeg;
  7. Vermy stimulante soos kafeïen;
  8. Gebruik hormoonaanvullings wat die byniere ondersteun.

 

Hannelize van Heerden, sameroeper van Opvoeding en Kultuur wys ons op die baie interessante feit dat daar internasionaal ’n kort skaal en ’n lang skaal gebruik word vir groot getalle.  Op hierdie twee skale verskil die waardes van groot getalle wat baie verwarrend is.  In Suid-Afrika, anders as in ander lande, word die lang skaal vir Engels gebruik en die kort skaal vir Afrikaans.  Met ander woorde, ’n biljard en ’n “billion” het verskillende waardes in Suid-Afrika!!!  In Suid-Afrika het ’n “billion” en ’n miljard byvoorbeeld dieselfde waarde – elk het nege nulle.  Hierdie gebruik van verskillende skale vir Engels en Afrikaans in Suid-Afrika is uiters verwarrend vir mense wat elke dag groot getalle gebruik.  Google dit gerus vir meer inligting!

 

Linda van den Berg, Openbare sake, hou ’n heerlike vasvrakompetisie oor onlangse aktuele en nuuswaardige gebeure en sake in ons land.  Die jonger dames loop met die louere weg!

 

Maretta Theron, Kunste en Handvlyt, doen verslag oor die onlangse konferensie en deel pryswenners se pryse uit.  Theresa Troskie het die volgende pryse verower:    Fotografie:  3de;  Masjienwerk:  2de;  Hekelwerk:  3de;  Decoupage: 3de;  Gehekelde mat: 2de;  Kweperjellie: 1ste.

Konferensie:  skilde:   Meeste punte in sirkelkompetisies: Murraysburg;           Landbou en Tuinbou:  Elana Grobler, Murraysburg; Openbare Sake:  Linda van den Berg, Murraysburg.

 

Hierna is Linda van den Berg aan die woord vir Leefstyl, oor haar passie, koekversiering.  Daar is 3 soorte koekversierings, naamlik:

  1. Botterversiering: Hieronder val byvoorbeeld versierings van gewone botter en versiersuiker, maaskaasversiersels en roomversiersels.  Tegnieke kan met verskillende versierpunte geoefen word.
  2. “Naked Cakes” is nou baie modieus en bevat minder soet versiersels. Om hierdie koeke egter smaak te gee, word ander geure bv. laventel bygevoeg.
  3. “Royal Icing”: Dit is eierwit wat styfgeklop word en waarby versiersuiker lepel-vir-lepel bygevoeg word totdat die versiersel die regte konsistensie het vir die doel waarvoor jy dit wil gebruik.  “Royal Icing” word kliphard.

 

Van den Berg gee ook wenke vir die hantering, kleur en werk met fondant.  Sy demonstreer hoe verskillende blommetjies gemaak word.

 

Die voorsitter, Renée Swanepoel, demonstreer hoe ’n langmoufrokkie in ’n kits uit ’n paar broekiekouse gemaak word en sy wys ’n plastiekskinkbord wat nou nuut op die mark is.  Dit word gebruik om skottelgoed op te laat droogdrup.  En daarmee is dit fluit-fluit die VLV storie is uit …!

 

Johanna van der Merwe, Alna Theron, Linda van den Berg en Dorees Pienaar bewonder voorbeelde en toerusting wat Van den Berg vir koekversiering gebruik.  Tannie Dorees Pienaar, ‘n baie getroue VLV lid wat op alle gebiede haar deel bydra, word vandeesmaand 83 jaar oud.  Sy is ‘n inspirasie vir ons ander lede.