Sirkel: Middelland

Tak: Kraggakamma

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Margaret van der Mescht

Datum: 18 April 2017

 

André en Zanelda Grundling is die gassprekers by die takvergadering.  André is `n ortotis en prostetis en spesialiseer in voetkondisies. Zanelda is `n borsprostese konsultant en het ` n skoonheid en velsorg praktyk.

 

André sê daar is nog heeltemal te min studie oor voete gedoen. Die voet is so kompleks. Dit is belangrik om die oorsaak aan te spreek en nie net die simptome te behandel nie. In sy praktyk maak hy gebruik van tegnologie om `n akkurate diagnose te bepaal. `n Driedimensionele plaat het sensors en kameras wat die beweging van die voet monitor. Voetprobleme kan die oorsaak wees vir lae rugpyn, seer knieë, heupe of seer enkels.

Elmine Kruger van die Gesondheidskomitee, saam met Zanelda en André Grundling.

 

Hy bespreek die twee mees algemene voetkondisies:

 

  1. Plantar Fasciitis

Simptome hiervan is erge pyn in die oggend wanneer jy opstaan. Dit verbeter namate jy meer beweeg. Die pyn word vererger as jy heeltyd op jou voete is en vererger met verloop van tyd.

 

  1. Metatarsalgia

Algemene tekens van die kondisie is `n brandgevoel, skerp steekpyne of `n dooie gevoel in die voet. Hierdie toestand kom meer by vrouens as mans voor. Dit kan oorerflik wees of as gevolg van verkeerde skoene.

 

Zanelda  bespreek die belangrikheid van die versorging van jou voete. Baie voetprobleme kan met goeie voetversorging voorkom en verminder word. Jou voete werk die hardste en word die meeste afgeskeep. Namate jy ouer word is dit al moeiliker om die voete ordentlik te versorg.  Veral by diabete moet die toonnaels reg geknip word anders veroorsaak dit bakteriese infeksie. Die hakke moet ook nie te veel geskuur word nie. Dit is verkieslik om `n antibakteriese seep met `n vogbasis te gebruik om die voete te was. Moet ook nie room tussen die tone smeer nie en sy beveel `n pedikuur elke vier weke aan.

In hulle winkel bied hulle skoene, borsprosteses, artritiskouse- en handskoene, binnesole en ander items aan wat beweeglikheid bevorder.

 

     

Van die skoene en ander items wat in hul winkel verkrygbaar is.