Sirkel: Overberg

Tak: Villiersdorp

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 18 April 2017

 

VLV-VROUE IN DROOMWÊRELD VAN LASLAPPIES

 

“Vroue oorleef moeilike omstandighede omdat hulle die vermoë het om hulle met mooi goed te omring” was jare gelede by ‘n VLV-Vrouedag op Villiersdorp, die wyse woorde van sanger Danie Niehaus.

 

Hierdie aanhaling was waarskynlik voorop in die gedagtes van die lede en gaste wat op 18 April die Leefstylvergadering van die VLV-tak van Villiersdorp bygewoon het. Hulle is begroet met ‘n uitstalling van die besondere kwiltwerk van Evelyn Jacobs se ma, Flolinda Marais van Bloemfontein. Dit is aangevul met ‘n uitstalling van die taklede se kompetisie-artikels waarmee daar meegeding is tydens die Sirkelkonferensie in Maart, die tafel vol blommerangskikkings en ander kompetisie-artikels vir die vergadering en les-bes ‘n marktafel. Flessies heuning, plante, groot sappige granate, ander vrugte, eksotiese sampioene en ander groente het ‘n blik gegee op die vrugbare vallei waarin die dorp geleë is.

 

 

Die besondere kwiltwerk van Flolinda Marais

 

Die gasspreker was Marinda de Wet, boervrou van Villiersdorp wat oor haar eie kwilts gepraat het, en dit toegelig het met ongelooflike voorbeelde van haar werk. Sy het die lede uitgenooi om haar winkel op die plaas te besoek waar hulle meer kan leer oor laslapwerk en kan kies om uit ‘n verskeidenheid voorraad materiaal en hulpmiddels aankope te maak. Met die hulp van Johanni Barnard, taksaamroeper vir Leefstyl, is die een nà die ander kwilt vertoon en die verskillende patrone en tegnieke verduidelik.

 

Johanni Barnard(links) en Marinda de Wet hou een van haar vele gekwilte kunswerke vir die belangstellende gehoor op.

 

Beulah Burger het verslag gedoen van die onlangse Sirkelkonferensie in Bredasdorp waar die taklede baie goed presteer het. Nà die verdaging is gesellig tee gedrink saam met Rienie Ludick, Sirkelpresident, Ronel de Villiers, die nuwe Sirkelsaamroeper vir Kunste&Handvlyt, Hermien van Zyl, Sirkelsaamroeper vir Landbou&Tuinbou, Cecile Jonkheid, Sirkelsaamroeper vir Opvoeding&Kultuur en Annie Jooste, vise-voorsitter van VLV-Kleinmond, wat saam met ander gaste ook die vergadering bygewoon het.

 

Villiersdorp-taklede saam met Sirkelpresident Rienie Ludick (heel regs): v.l.n.r Evelyn Jacobs, Marinda de Wet (gasspreker), Elize Jacobs, Arina Naudè, Johanni Barnard (Taksaamroeper vir Leefstyl) en Johlene Viljoen (Voorsitter).

 

Die verleidelike produkte het van die marktafel af gevlieg!