Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 12 April 2017

 

April. Maand van hase, dwase en natuurlik die Pase. En dis Herfs. Asemrowende Herfs. Roesbruin, karmosynrooi en gemmergeel. Die kleure rol netso lekker van die tong af soos wat hulle op die oog speel. ‘n Mooi tyd van die jaar.

 

So gepraat van mooi. Mooi was ook die tema van Acqua se April-samekoms.

 

Wie soek dan tog nie ‘n ietsie mooi om aan te trek nie? Karel Leerink, modeghoeroe van Truworths, het kom wys en gesels oor slim keuses vir jou klerekas hierdie winter.

 

Denim is immer ‘n treffer en die maksi-romp maak weer ‘n verskyning. Die sweetpak, gekombineer met blink sportskoene of selfs hoë hakke, as jy baie modebewus en waagmoedig is, is groot nuus op die wintermodefront. Salmpienk gekombineer met bruin of militêre groen en pienk is moet-hê kleure in jou winterkas. Bostukke vol blinkertjies kan met groot sukses in die dag gedra word, veral as dit met ‘n paar blink tekkies gedra word. Die polonektrui en jasse met groot krae sal jou nie net warm hou nie, maar verseker dat jy hoog in die mode is. Die klassieke luiperdmotief is hierdie winter ook weer hoogmode. Veral as materiaal vir ‘n baadjie.

 

Karel het ook ‘n paar geheime gedeel. Die spieëls in aantrekkamers jok nie. Maar hou goeie moed, want niemand, buiten die spieëls in die aanttrekkamer, sien jou ooit gelyktydig van drie kante af nie. Nog ‘n wenk is dat jy moet probeer sit met die kledingstuk wat jy aanpas, want wanneer jy gaan sit, verwissel bultjies en rolletjies van plek. Dit wat gemaklik pas wanneer jy staan (en jou maag intrek), pas nie meer so gemaklik wanneer jy van posisie verander nie.

 

Die groot geheim van mode is om dit nooit slaafs na te volg nie, nie impulsiewe kopies te maak nie en om altyd jou eie stempel en styl in’n uitrusting te inkorporeer.

 

Moeiteloos mooi met permanente grimering? Vir sulke kundigheid het ons niks verder gesoek as in eie geledere nie. Lid, Dalene Brown van Dalene Brown Skincare Clinic, het almal slim (en mooi) gemaak oor die getatoeëerde ooglyn, wenkbroue, liplyn en lipstiffie. Permanente grimering kan selfs vir mediese redes en op littekens gedoen word. Sy het die versekering gegee dat die verdowingsalf wat die terapeute gebruik die beste op selfs die internasionale mark is en dat die prosedures met minimale, indien enige, pyn gepaard gaan.

 

Na hierdie vergadering is Acqua-lede nie net elegant nie, maar beslis pragtig van binne én buite! Coco Chanel het juis gesê: “Elegance is when the inside is as beautiful as the outside.”.

Mooi tafeldekorasies vir mooi gaste.               

 

Dalene Brown

 

Selfs Kwakkie was uitgevat in ‘n mooi nuwe uitrusting.