Sirkel: Suid-Karoo

Konferensie

Beriggewer: Maryke Louw

Datum: 24 Maart 2017

 

Williston – Lede van die VLV takke het vanjaar bymekaar gekom op Merweville, om die 81ste Sirkel Konferensie te hou.

 

Met die ontvangs by Merweville was ons dadelik verseker dat dit ‘n geleentheid uit die hoogste rakke sal wees.  Ons was bederf met die mees interessante eetgoed, geskenke en sprekers.

 

Ds Herman Burger het die verrigtinge geopen deur te lees uit Spreuke 31 en ons weereens gewys elkeen is ‘n aanpasbare vrou.  Mev. Cecilia Louw, sirkel president het ‘n goed georganiseerde konferensie saamgestel met Merweville as gasvrou.

 

Mev Erika Lubbe het vir mev. Cecilia Louw, gelukgewens met haar eerste Konferensie as Sirkelpresident en ook met die wyse waarop sy die Sirkel vorentoe neem.  Mev. Lorraine Symington, vorige Sirkelpresident, het ook die Konferensie bygewoon.

 

Cecilia Louw(Sirkelpresident), Erika Lubbe (VLVK Argivaris), Alida Erasmus (Merweville Voorsitter) en Lorraine Symington(vorige Sirkelpresident)

 

Me. Zaria Barnard het die vroue weereens laat besef dat dit baie maklik is om jou klerekas te verander met ‘n meng en pas kombinasie en om klere wat ‘n paar seisoene oud is weer op te helder.

 

Mev. Gina Mans vertel ons meer van die gebruik van TIK en dat dit ons almal se probleem is. Voorkoming lê nie daarin om vir kinders te vertel wat dwelms is nie, maar om betrokke te raak by skole en instansies.

 

Kunste en Handvlyt se spreker, Lenor van Schalkwyk, het ons verstom met haar kunstalent en ons gemotiveer om die kuns in onsself te ontgin.  ‘n Ou koffertjie wat omskep is in ‘n badkamerkassie met ‘n spieël, kaartjies, interessante artikels van stukke takke van die veld en nog vele meer word gewys.

 

 Lenor van Schalkwyk met ‘n badkamerkassie gemaak van ‘n ou koffer.

 

Die spreker vir Landbou, Mev Hannelie Rupert Koegelenberg, lewer ‘n indrukwekkende praatjie ivm ‘blom waar jy geplant is’.  Mev Rupert Koegelenberg was ook die gasspreker by die spogdinee en het almal gemotiveer om betrokke te raak by ons verskeie gemeenskappe.

 

Met sprekers, jonk en oud, het ons as vroue besef dat, ongeag die ouderdom, ons steeds ‘n verskil kan maak.  Mev Nicolene Diedericks, wenner van 2016 USN Face of Fittness, vertel ons dat as ons iets wil bereik, ons positief moet bly en dit enduit moet voer.  ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

 

Mev. Mima Bernard, VLV voorsitter van Carnarvon, neem ons op ‘n toer deur Turkye. Sy wys ons die interessante artikels van die land.  Sy vertel ons ook meer van sonenergie en sonplase.  Meer as 50 hernubare energie projekte is in Suid-Afrika en nog vele in konstruksie.

 

Met die prysuitdeling het Williston die meeste punte gehad, 2de Prins Albert en 3de Sutherland.  Die mees uitstaande artikel was die toekreen boekstutte van mev. Else van Larae van Williston.

VLNR: Sarah Louw, Cecilia Louw, Maryke Louw, Ina-Marie Visagie, Annelize Louw en Adelia Wilson. Skinkbord vir meeste punte(Williston)