Sirkel: Paarl

Tak: Wellington

Portefeulje: Kuns & Handvlyt

Beriggewer: Jaomi Zeeman

Datum: 23 Maart 2017

 

June Smit en haar gedugte span het die oggend in ‘n Paashaas towerwêreld omskep. Elkeen van die portefeulje het ‘n bydrae gelewer. Van die mooiste handgevoude doilie- voëltjies, blommerangskikkings en dies meer. Daar word ook vertel van die gebruike van die Pase.

 

Paasfees het vir verskillende mense verskillende betekenisse en neem verskillende gedaantes aan.  Dit hang seker af van jou ouderdom, kultuur, land van herkoms en geloof watter betekenis jy daaraan heg.

 

 

Een ding is egter seker:  vandag word Paasfees oorwegend gevier wanneer Christene regoor die wêreld die kruisiging en opstanding van Jesus herdenk.

Kom ons kyk eers na die naam “Paasfees”.  Waar kom dit vandaan?  Die Afrikaanse naam is van die Hebreeuse Pasga (Pesach) of Passover in Engels afgelei.  Dit vind ook op dieselfde tyd as hierdie Joodse fees plaas.  Dit is wanneer die Jode die feit dat God hulle van slawerny uit Egipte bevry het, vier.  ‘n Interessante feit is dat Paassondag altyd die 1ste Sondag na die 1ste volmaan na of op die 21ste Maart is.  Indien die 1ste volmaan dan op ‘n Sondag is, is Paassondag die 1ste Sondag daarna.

 

Die Engelse woord Easter is weer afgelei van die woord “Ishtar” (ook genoem Astarte, Eoster, Ostera of Eastre), wat as een van die liefdesgodinne, die Babeloniese godin van fertiliteit is.  Volgens oorlewering was haar metgesel altyd ‘n haas.  Daar is ook bronne wat bespiegel dat dit van die Noorse woord eostur, eastur of ostara, wat “die seisoen van die groeiende son” of “die seisoen van nuwe lewe” beteken.  Die Engelse woord “east” kom van dieselfde stamwoorde, wat daarop kan dui dat dit oorspronklik aan verandering in seisoen gekoppel kon word – letterlik en figuurlik.

 

Soos ons almal weet, is daar talle simbole wat tradisioneel met Paasfees verbind word, byvoorbeeld Paashaas, paaseiers, kerrievis, lam, hot cross buns, pretzels, Paaslelie.

 

Kerrievis

Op Goeie Vrydag eet amper almal in die Kaap kerrievis want dit is ‘n tradisie wat al van die vroegste tye af bestaan. Dit is na die Kaap gebring van die Ooste af toe die slawehandel nog in werking was. Die slawe het geglo dat dit onheilig is om vleis op Goeie Vrydag te eet.  Vandag is dit ‘n baie gewilde Kaaps-Maleise gereg wat deur almal oor die wêreld gemaak word. Blykbaar het Lady Anne Barnard die gereg op die plaas Meerlust geëet in 1798 en later het sy geskryf: “I had fish from the nature of God, pickled with Turmeric.”  Dit is wonderlik dat ons so ‘n eg-Suid-Afrikaanse gebruik tydens hierdie besondere feestyd het.

 

Hot cross buns

Die wit smaaklose kruis dui op die leegwording van Jesus en Sy kruisdood. Die vier kwarte wat deur die kruis gevorm word dui op die evangelie wat die wêreld ingeneem moet word. Die gemengde kruie in die deeg simboliseer die bitter lyding van Jesus. Jesus het aan die Kruis gesê dat Hy dors het en Hy het die kruiedrankie wat aan Hom gebied is, geweier.

Die rosyntjies in die bolletjies dui op druiwe waarvan wyn gemaak word. Die wyn versinnebeeld weer die bloed van Jesus.

 

Paaseiers

Baie antieke kulture het eiers as ‘n teken van nuwe lewe beskou.  Hindoes, Egiptenare en o.a. Perse het bv. geglo dat die wêreld uit ‘n reuse-eier ontstaan het.  Die Perse, Grieke en Chinese het ook tradisioneel eiers as geskenke gedurende lente-feeste as die viering van nuwe lewe aan almal uitgedeel.  Vroeë Christene het die waarde van hierdie simboliek van eiers benut en dit deel van hul viering van Christus se opstanding gemaak.

Daar is selfs eier-rol kompetisies tydens Paasfees in Amerika en Engeland waar mense die wegrol van die steen voor Jesus se graf herdenk.  Die ovaal-vorm van ‘n eier  herinner ook aan die vorm van ‘n saadjie en ‘n reëndruppel – alles simbole van nuwe lewe.

 

Die lam

Van al die Paassimbole is die lam sekerlik die een met die sterkste oorspronklike Christelike konnotasie.  Behalwe vir die feit dat lammetjies in die lente gebore word, kom dit ook van die Joodse Pasga waar elke familie ‘n lam as offer moes bring.  Toe Jesus vir Christene die Pasga-Lam geword het, het die lam ‘n teken van sy offerande aan die mensdom geword.  Baie mense bedien ook lam as deel van hul Paasfees-maaltyd.

 

Paashaas

Die haas is ‘n antieke simbool vir die maan.  Dit het waarskynlik tot sy gebruik tydens Paasfees bygedra omdat die datum van Paasfees deur die maan bepaal word.  Die haas wat uit sy ondergrondse tuiste verskyn, het ook vir vroeë Christene ‘n simbool van Jesus wat uit sy graf kom, vergestalt.

 

Baie interessant:  die 3 hase in ‘n sirkelmotief is ‘n simbool wat by verskeie ou kerke en katedrale gevind word.  Die simbool wys 3 hase wat mekaar in ‘n sirkel jaag.  Die simbool lyk amper soos ‘n raaisel.  Dit is soos ‘n drievoudige simmetrie en tussen die 3 hase is daar net 3 ore, maar dit lyk of elkeen 2 ore het.  Die betekenis daarvan hou met die siklus van die maan, vrugbaarheid en die drie-eenheid verband.  Daar is ook vroeër geglo dat hase die vermoë het om as maagde voort te plant.  Hierdie teken word in talle Europese kerke en katedrale, veral in Frankryk, Duitsland en Engeland gevind.

 

Aletta Keyser demonstreer Paasbolletjies aan die lede en alles kon na die tyd geproe word. Daar was tot kerrievis, Whiskey sjokolade drankie, Paaseiers en nog ander lekkernye om die komende Paasfees te vier.

 

                       

Whiskey-sjokolade drankies saam met die Paashaas       Aletta Keyser demonstreer Paasbolletjies

 

Na al die inspirasie is ons reg om ‘n Haas uit die hoed te haal en ons baie trofeë en toekennnings by die afgelope konferensie word bekend gemaak.

Inskrywings van Wellington by Konferensie.

 

Wellington is voorwaar ‘n staatmaker en loop weg met beker vir Kuns & Handvlyt, Beker vir Meeste Punte behaal, Naaldwerkbeker en ook Tip-Top beker. Daar is te veel 1ste plekke en 2de en 3 de plekke om almal te noem, maar ons is ‘n Wenner!!!!

 

Patricia Pietersen, Juanita Loubser, Amelia Jacobs, Susan Hodgson, Dawn Greyling, Gerda Smit, Karen Barnard, Aletta Keyser, Beppie Altintopi en Johanna Rheeder by al die trofeë wat hul verower het.