Sirkel: Middelland

Tak: Carpe Diem

Beriggewer: M van der Walt

Datum: 20 Maart 2017

 

Hanekam, die aandtak van VLV-Uitenhage, het onlangs die 83 ste Konferensie van Sirkel Middelland te Kontrei-Gastehuis gehou.  Lana van Niekerk, kankerpasiënt in remissie, was die geleentheidspreker en het ‘n besielende boodskap gelewer, oor  “Aanpasbare Vroue”, die tema van vanjaar se VLV Kaapland.  Die aanhaling van Charles Darwin “It is not the strongest, but the most adaptable that survive”,  kan ‘n mens in alle fasette van die samelewing toepas.  Sugnet van Wyk, inwoner van Uitenhage ,  het gepraat oor “Geestesweerbaarheid in die tyd waarin ons leef”.  Wilandie Strydom, Koekedoorfinalis 2016,  het ‘n demonstrasie gelewer en per videovertoning gewys wat alles agter die skerms in “Die Stoor” plaasgevind het.

 

By dié geleentheid het Carpe Diem, die oggendtak van Uitenhage, skoonskip gemaak met die bekers wat vir kompetisies uitgedeel is:  1ste pryse vir Naald- en Borduurwerk en  “Die meeste punte in die kategorie Leefstyl”, wat ook brei-, hekel- en weefwerk insluit.  Eerste prys vir Fotografie.  Beker vir  “Die Tak met die Meeste Nuwe Lede” gewerf,  beker vir “Gemeenskapsbetrokkenheid” en die beker vir “Die Algehele wenner uit alle Kategorieë”.  Dié tak het ook baie jonger lede en van hulle het gewaag om vanjaar saam met ouer dames mee te ding en van hulle het vir die oueres ook gewys hoe dinge gedoen kan word!  Dit is so lekker as die “leerlinge” die “leermeesters” verbysteek!

 

Carpe Diem hou op 6 April om 9.30 in die Winterhoek-kerksaal ‘n werksessie om beginners, asook meer gevorderde dames, die vaardighede van Brei- en Hekelwerk te leer.   Skoolmeisies is ook welkom.

 

Vlnr: Marietjie van der Walt, Voorsitter, Laurinda Samson, Amanda Bosman, Anien Minnie, Genè Crouse, Jenny Watkins, Cora Maneveldt en Elsje Ferreira.