Sirkel: Paarl

Tak: Suider-Paarl

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Elsa Hanekom

Datum: 15 Maart 2017

 

‘n Behoefte aan ‘n leefstylverandering het die Van Eyssens na die Paarl gelok.  In 2004 koop Paul en Salome van Eyssen die tafeldruif plaas, Olyvenbosch en aan die begin van 2005 verhuis hulle en hul 3 kinders van Houtbaai na die Paarl.  Die plaas kry sy naam van die wilde olyfbome op die koppie agter die plaas wat teen die noordelike hange van Paarlberg geleë is.

 

Na 3 jaar besluit hulle om eerder op olywe te fokus.  Hulle het oorspronklik olywe probeer inlê, maar gou besef dat hul olywe olie-olywe is en nie eetolywe nie.  Paul verduidelik dat voordat jy besluit om olywe in te lê, jy 100% seker moet maak dat dit wel ‘n eetolyf is.

 

Tot ongeveer twintig jaar gelede het Suid-Afrikaners olyfolie gesien as iets wat jy in ‘n apteek gekoop het vir allerlei kwale of as olie in ‘n lamp gebruik het. Deesdae is olyfolie gewild in kookkuns en word daar ook vele ander produkte van olywe geproduseer.

 

Dit is ‘n mite dat daar nie met olyfolie gekook kan word nie.  Die rookpunt van olyfolie is 280 °C.  Om ‘n eier in olyfolie te bak is baie gesonder en geuriger.  Soos met druiwe, is daar verskeie olyf kultivars en net soos druiwe gepars word vir die sap, word olywe se sap (of eerder olie) gebruik vir die vervaardiging van ander produkte.

 

Soos voorheen genoem, is daar twee soorte olywe, naamlik:

  • eetolywe, wat die Kalamata (swart olyf) en manzanilla (‘n groen olyf) insluit, en
  • olie-olywe – Frantoio, Leccino en Coratina.

Olywe kan nie van die boom geëet word nie en moet verwerk word.  Eetolywe kan of gepekel of soutgedroog word.

 

Die raklewe van gebottelde olyfolie is ongeveer 2 jaar.  Wanneer ‘n bottel olyfolie oopgemaak word, oksideer die olie en raak mettertyd galsterig.  Koop eerder klein hoeveelhede olie indien jy nie gereeld olyfolie gebruik nie.

 

Olyvenbosch was die pioniers op die gebied van olyfolie in ‘n “papsak”.  Die papsak kom in ‘n boks met ‘n kraantjie en die olie word nie aan lig blootgestel nie.  2-jaar raklewe word nou 2-jaar gebruikslewe.

 

Olyfolie is ‘n natuurlike produk, geen ensieme word bygevoeg soos met sommige ander olies nie.  Wat is “Extra Virgin” olyfolie? Olie met ‘n suurgehalte van minder as 0.8% en gepres onder 27°C (“Cold pressed oil”). Olyvenbosch bied, behalwe sy bekroonde “extra virgin” olyfolie, ook balsamiese asyn, balsamiese glaseersel en sy eie reeks velsorgprodukte aan.  Produkte kan direk op die plaas of aanlyn gekoop word.

 

Salome van Eyssen laat vir Ria Liebenberg aan olyfolie proe.

 

          Elke lid het ‘n monstertjie lyfroom ontvang wat hier deur Elsa Gous en Jean Rosenstein  getoets word

 

Olyvenbosch se produkte

 

Salome van Eyssen bespreek die Olyvenbosch handeroom met Elsa Gous

 

Paul en Salome van Eyssen geniet na afloop van die vergadering ‘n koppie tee saam met die lede.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Suider-Paarltak is baie trots daarop dat 3 van die 4 bestuurslede van Paarlsirkel uit eie geledere kom.  Hier is Hester Smit by Jean Rosenstein (reeds 30 jaar Tesourier), Gonny du Plessis (nuut verkose Vise Sirkelpresident) en Berta Spangenberg (Sekretaresse).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Wilma Kock (kuns en handvlyt) en Tia Dixon (breiwerk en borduurwerk) het by die onlangse sirkelkonferensie bekers ontvang.