Sirkel: Namakwaland

Geleentheid: Sirkelkonferensie

Beriggewer: Janine Brynard

Datum:14 & 15 Maart 2017

 

AANPASBARE VROUE VIER 80 JARE

 

Vroue van regoor Namakwaland het vanjaar byeengekom op Calvinia, om die Vroue- Landbouvereniging se 80ste Sirkelkonferensie te hou.  Dit was sommer gou duidelik dat hierdie glansgeleentheid propvol inspirasie en bederf sou wees….en was dit nie!

 

Om die VLVK Sirkel Namakwaland se 80ste verjaardag te vier, het alle afgevaardigdes by die Konferensie ‘n koekie gekry met ‘n verjaardag-kersie wat saam uitgeblaas is.  Om die geleentheid meer swier te gee en om aan ‘n geliefde lid in haar kankerstryd te dink, Elize Boonzaaier, het almal pienk gedra vir die geleentheid.

 

Calvinia VLV het gasvrou gespeel vir die Konferensie en het hul uitstekend van hul taak gekwyt.  Tydens die Sirkelbestuursvergadering, het Sonja Squires die bestuurslede aangemoedig om te fokus op hul Emosionele Intelligensie.  Hoeveel weet jy van jouself?  Is dit die waarheid?  Wie is jy werklik en wat bepaal jou waarde?  Ken jy jou innerlike toestand?  Wat verkies jy?  Wat is jou vooroordele?  Waar kry jy energie vandaan?  Watter emosies ervaar jy?  Hoe affekteer dit jou gedrag en besluite?  Word akkuraat bewus van ander mense se gevoelens, behoeftes, belange en perspektief.

 

Die nuut verkose Sirkelbestuurslede van VLVK Sirkel Namakwaland, asook die uittredende lede.

A.v.l.n.r:  Mandie Kotze (Kunste & Handvlyt), Janine Brynard (uittredende – Leefstyl), Joretha de Waal (Opvoeding & Kultuur), Helene Greig (Openbare Sake), Ina Wiese (Gesondheid), Alida Vlok (waarnemend Landbou & Tuinbou) en Lehana Nel (nuut verkose – Leefstyl).

V.v.l.n.r:  Sanet Ras (herverkies as Sirkel Visepresident), Heidi van Niekerk (Sirkelpresident) en Kobie Basson (herverkies as Sirkel Sekretaris/Tesourier)

 

 

‘n Kenner in Leierskap, Linda Meyer, het ‘n kragtige boodskap aan alle afgevaardigdes tydens die Ampsdraersvergadering gelewer: “Don’t leave before you left.”  Tydens die Amptelike opening, het ds Maryke van Niekerk gefokus op God se hart teenoor ‘n vrou.  Wat is die waarde van ‘n vrou vir God?  En dan lê die antwoord duidelik in Spr 31, vanaf vers 10:  ‘n Vrou wat die Here dien, verdien om geprys te word; sy is waardevoller as edelstene; sy hoef vir niemand terug te staan nie.  Sorg dat iemand by jou begrafnis kan sê:  ‘Sy het die Here liefgehad met haar hele hart!’

 

In haar presidentsrede, het Heidi van Niekerk verduidelik hoe die Aanpasbare VLV-vrou te werk gaan:  Om aan te pas, beteken nie om jou identiteit en tradisies prys te gee nie, maar om kennis te neem van die omstandighede wat verander en die situasie volgens jou vermoë te hanteer.  Die mens se vermoë om aan te pas, bly ‘n wonderlike eienskap.  Met aanpasbaarheid, geesdrif en ‘n positiewe gesindheid, kan ‘n mens enigiets vermag.

 

As spreker vir die Leefstyl-Portefeulje, het Lisa Wilson verklap hoe om geklee te wees in Sy Heerlikheid.  Alhoewel die wêreld se kriteria daarvoor daarin lê om deugsaamheid en skoonheid te hê, is hierdie eienskappe vlietend.  Wat bring dan blywende sin in my lewe?  Die antwoord lê in die intieme, binne-gesprek wat elkeen van ons elke dag voer, wat uittregter in wat ons dink, praat en doen.  Dit vorm die oortuigingstruktuur waarop elkeen se unieke werklikheid gebou word en dit vorm die versiering van ons binne-mens.  Dis daardie weergawe van jouself wat weerloos voor die Genadetroon staan.  Beklee jou met ‘n mantel van Sy Heerlikheid, want jou wese is net soos Syne.  Jy heers.  Jy is onsterflik, jy is Heilig!  Geniet jou mantel en onthou, dis hierdie einste mantel wat ons sal aantrek na die bruilofsmaal van die Lam.

 

As uiters talentvolle kunstenaar, het Jalmé Steenkamp die dames ‘n kykie gegee in haar skilderkuns, in die Kunste & Handvlyt-portefeulje.  Jalmé se inspirasie as klein dogtertjie, was haar ouma, wat haar by die Tegniese kollege ingeskryf het vir kunsklasse.  Maar sy het haar ook geleer dat kuns en om kreatief te wees, hand-aan-hand loop.  Elke mens word gebore met die behoefte om te skep, om kreatief te wees.  Dit is in ons gene vasgelê deur ons Groot Skepper, Elohim.  Die medium waarin ons dit uitleef, verskil net.  Dit is net belangrik om te onthou, watter vorm van kuns jy ookal beoefen, bly getrou aan jou emosies, aan wie jy is en onthou:

“No matter how much you know, there is always so much more to learn.  Stay openminded and humble.  Persue your dreams, because if not, then what are you doing?”

 

 

 

 

 

 

 

 

Elke jaar, word ‘n Eregas genooi om as hoofspreker op te tree tydens die Konferensie.  Vanjaar het Mariaan Fölscher oor die tema, Aanpasbare Vroue gepraat:  Die lewe is ‘n avontuur, maar om aan te pas is ongemaklik.  Aanpassing is gewoonlik my tweede keuse, dis nie lekker nie.  Maar dis ook belangrik om te weet – Daar kom dinge op jou pad waarvoor jy nie gevra het nie.  Maak dus jou mond toe oor wat jy van ander mense sê.  Die lewe gebeur: ‘n vrou verloor haar eggenoot op ‘n vroeë ouderdom, ‘n ouer verloor ‘n kind – en soms selfs ‘n tweede kind!, ‘n jong man verloor ‘n liggaamsdeel, ‘n huwelik word opgebreek deur egskeiding – ál wat jou daardeur kan kry, is aanpassing – Goddelike aanpassing.  Gebruik die aanpassing in jou lewe om ander mense by te staan, wat deur dieselfde gaan.  Saam met Maria kan ons sê: “Here, laat dit met my wees, soos U gesê het!”

 

Afgevaardigdes, eregaste, sirkelbestuurslede en dagbesoekers tydens VLVK Sirkel Namakwaland se Konferensie op Calvinia.

 

Vir die Opvoeding & Kultuur-portefeulje, het Susan Carstens verduidelik dat Dissipline by die huis begin.  Dissipline moet aangeleer word en die boustene daarvoor sluit in Kommunikasie, Respek, Reëls, Gesag en Gesagsfigure, Reg en Verkeerd, Verantwoordelikheid en Omgee vir ander.  As ‘n ouer hierdie beginsels toepas, sal hy sy kind leer om die wêreld ‘n beter plek te maak!

 

‘n Baie aktuele onderwerp vandag, is Sonkrag.  In die Openbare Sake-portefeulje, het Cor van Niekerk, van Agrisolar, verduidelik wat die verskillende komponente van hierdie wonderlike alternatiewe energie-bron behels.  Deesdae kan ‘n hele huishouding, besigheid én boerdery met welslae na Sonkrag en –energie omgeskakel word.  Die aanvanklike koste word binne enkele maande terug betaal en hierna is slegs instandhoudingskostes nodig.  Die feite is onteenseglik:  Alternatiewe energie ís die pad vir die toekoms!

 

In die Gesondheid-portefeulje, het Ina Wiese die Wonder van Gemmer verklap.  Gemmer het ‘n skatkis vol gawes van geur, maar is ook vol gesondheidsvoordele.  Reeds in die sesde eeu voor Christus, is gemmer as medisyne gebruik, vir veral die verligting van seesiek, bewegingsiekte en oggendnaarheid.  Verder verlig dit ook hoofpyne en verbeter bloedsomloop.  En dan weet ons almal al dat gemmer die simptome van verkoue verlig en ‘n omgekrapte maag kalmeer.  ‘n Lekker voordeel, is dat gemmer help om kilojoules te verbrand en drange na vetterige kos te help onderdruk.  Vars gemmer is beter as gedroogde gemmer en bevat ook hoër vlakke van gingerol wat inflamasie onderdruk.  Gebruik dus gemmer na hartelus en gee jou gesondheid ‘n hupstoot!

 

‘n Ander bitter aktuele onderwerp, is die water-tekort.  Behalwe vir die voortslepende droogte, raak dit toenemend uitdagend om tuin te maak in ons dorre wêreld.  Talitha de Waal het wenke gegee oor hoe om nou tuin te maak in die Landbou & Tuinbou-portefeulje.  Al krap ons almal deesdae kop oor hoe om ons tuine aan die lewe te hou en na iets te laat lyk, moet ons onthou dat dit terapeuties is om tuin te maak.  Dit verryk jouself en leer jou geduld.  Dink kreatief om die elemente te fnuik en soek plante en ander elemente wat jy kan gebruik.  Haal dooie goed uit, dit is net neerdrukkend en sal nie weer groei nie.  Maak ‘n kopskuif en haal uit wat nie werk nie.  As dit egter waardevol en skaars is, doen moeite om dít aan die lewe te hou.  Gebruik jou gryswater, maar verbeter ook jou grond se gehalte met kompos, gips en ander voedingstowwe soos veral engelse sout en onthou van blaarvoedings.  En terwyl ons almal in afwagting uitsien na die winterreëns, berei solank jou grond voor, werk potplantgrond in beddings in en strooi deklae.

 

Met propvol inspirasie-tenkies en harte wat oorloop van dankbaarheid oor ál die seëninge en bederf, is Namakwaland se vroue terug na hul takke toe om ander te gaan aansteek om Aanpasbare Vroue te wees.

 

Tydens die Prysuitdeling van die VLVK Sirkel Namakwaland Konferensie, is Lutzville VLV gekroon as die wenners van die trofee vir die tak met die meeste punte.  Op die foto v.l.n.r. is Martha van Zyl, Joretha de Waal (Takvoorsitter), Elmarie Horstmann en Susan Carstens.

 

Tydens die Prysuitdeling van die VLVK Sirkel Namakwaland Konferensie, het Nieuwoudtville VLV die trofee ontvang vir die tak met die tweede meeste punte.  Op die foto v.l.n.r. is Leana van Wyk, Elmarie Spangenberg, Erika Kotze, Heidi van Niekerk (Takvoorsitter), Irma van Niekerk en Mandie Kotze.

 

Tydens die Prysuitdeling van die VLVK Sirkel Namakwaland Konferensie, het Loeriesfontein VLV die trofee ontvang vir die tak met die derde meeste punte.  Op die foto v.l.n.r. is Eva Brand, Lehana Nel, Gloudine Schade, Danelia Louw en Alida Vlok (waarnemende Takvoorsitter).