Sirkel: Overberg

Beriggewer: Cecile Jonkheid

Datum: 15 Maart 2017

 

Vlv Overberg hou suksesvolle 84ste Sirkelkonferensie net buite  Bredasdorp

 

15 Maart 2017 sal verseker in die annale van VLV Overberg, opgeteken wees as die dag waarop ‘n baie suksesvolle 84ste sirkelkonferensie net buite  Bredasdorp gehou is.  Welverdiende gelukwensing is oorgedra aan sirkelpresident Rienie Ludick vir die interessante program wat sy saamgestel het, en die Bredasdorpstak vir die tipiese Overbergse gasvryheid wat die ongeveer 150 gaste en lede kon geniet.

 

Sirkelpresident Rienie Ludick aan die woord tydens die konferensie.

 

Elkeen van die sprekers het op ‘n interessante manier die tema “Aanpasbare Vroue” uit hulle eie besondere  perspektief aangewend in hulle onderskeie bydraes.   In haar groeteboodskap het raadslid Zukiswa Tonisi, die onderburgemeester van die Kaap Agulhas-munisipaliteit,  vroue van die sirkel aangemoedig  om hierdie “sirkel” te vergroot om meer vroue in te sluit wat mekaar help en ondersteun. Jan-Hendrik Human van die Bredasdorp-Landbouvereniging het die groete van die boeregemeenskap oorgedra en ‘n suksesvolle boer se wysheid gedeel dat ‘n goeie vrou aan die sy van ‘n boer altyd ‘n resep vir sukses is. Groeteboodskappe is ook van  die VLVK-president, Karien van Schalkwyk, self ‘n oud-Overberger,  en Cornie Swart, Agri Wes-Kaap president, ontvang.  VLV is baie bedag op die rol wat landbou in ons sameleweing vervul, en ‘n mosie van dank is eenparig deur die konferensiegangers aangeneem om waardering te betuig  aan die Overberg se landbouverenigings wat onlangs medeboere in die droogtegeteisterde gebiede met voerskenkings gehelp het.

 

Gasspreker  Madri Bruwer, ook ‘n Overberger, het vertel van die sukses wat die Straatwerker-bediening waarby sy betrokke is in die Kaap behaal. Lede het veral belang gestel in die Poppie-projek waarmee daar voorkom word dat straatkinders in ‘n dwelm- en prostitusienetwerk verval deur met unieke gebreide poppies hulle eie uniekheid by hulle tuis te bring.

 

Gasspreker, Madri Bruwer vertel op interessante manier van haar werk as straatwerker en die suksesse wat behaal word.

 

Dr John Duminy, onkoloog van Hermanus was die tweede gasspreker en hy het gesê dat “Aanpasbare Vroue” ook hulle denke ten opsigte van kankervoorkoming en –behandeling vernuwe en aanpas. Hulle skram nie weg van mammogramme nie en let op die voorkoming van sonskade en die gevare van rook.

 

In die kompetisie-afdeling het VLV-Bredasdorp gewys wat in hulle steek met die verowering van die Hugo-trofee vir die meeste punte behaal, Hermanus was tweede en Gansbaai derde.

 

 Irene Groenewald van Bredasdorp, verower tydens haar eerste deelname aan ‘n konferensiekompetisie, die meeste punte en stof so al die ander deelnemers uit.  Van links na regs is Corrie Fourie, Vise-Sirkelpresident, Irene Groenewald en Sunette de Villiers, Sirkelpresident van Sirkel Worcester, wat die pryse oorhandig het.

 

 Annette van Eeden, takvoorsitter van Bredasdorp en wentak van die dag, neem trots ‘n trofee in ontvangs.