Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum:15 Maart 2017

 

Die Maart 2017 vergadering van Aberdeen VLV word in die Klubsaal op die dorp gehou met Gesondheid as fokus.  Die vergadering word goed bygewoon en verskeie gaste is ook verwelkom.

 

Lea van der Vyver open met ‘n vers uit Efesiërs wat sê dat ons ons sterkte moet vind in die Here se geweldige krag.

 

Om van die krag van God te getuig, stel sy John Peniston, jarelange inwoner van die dorp, aan die woord om sy getuienis van wondergenesing en God se aanraking te deel.

 

 

Peniston vertel hoe siek hy aan sy longe was – hy moes gelyktydig 2 suurstofbottels gebruik om asem te haal en kon glad nie lê en slaap nie.  Sy kinders het van ver gekom om hom te groet, want alle aanduidings was daar dat sy einde naby was.  Peniston vertel dat hy vir jare die bestaan van God bevraagteken het en later glad nie geglo het nie.  Sy seun se groetwoorde was dat hy net sy hande moet uitsteek – God is daar.  Hy is in die hospitaal opgeneem, waar die dokter aangedui het dat hulle hom eers vir ‘n paar dae moes stabiliseer voor hy oorgeplaas kon word na ‘n hospitaal in Port Elizabeth.  Gedurende die nag het Peniston telkemale die suurstofpypie uitgehaal om te toets hoe lank hy daarsonder kan asemhaal.  Hy het ook aan sy seun se woorde gedink en God gevra om hom ‘n teken te gee dat Hy bestaan.  Tyd het verloop en hy het geen teken gesien nie, totdat hy die gewaarwording gehad het dat hy beter moes kyk.  In die poging het hy afgebuk om ook onder die bed te kyk.  Daar sien hy toe die suurstofpypie wat al vir meer as ‘n uur nie in sy mond was nie – hy het heeltemal vergeet om dit terug te sit en nie besef dat hy alleen asemhaal nie!  Net daar het hy sy hande uitgesteek en God gevra om hom te vergewe.  Hy het God se aanraking en liefde ervaar deur ‘n warm gloed in sy lyf en daarna gaan lê en tot die oggend geslaap.  Die dokter kon daarna geen fout meer vind nie en na nog toetse is hy 2 dae later ontslaan en is steeds op geen medikasie of suurstof nie.

 

Onder VLV Sake gee Elna van Niekerk en Suzanne Lategan terugvoer oor die Sirkel Middelland Konferensie wat hulle in Uitenhage bygewoon het.  Die tak het aan 4 kompetisie items deelgeneem en vaar heel goed.  Carina Esterhuizen ontvang 3de prys vir haar karamel toffies en die tak ontvang vir die 2de opeenvolgende jaar die Helen Crause Trofee vir Reklame.  Lea van der Vyver word tydens die konferensie verkies as Sekretaris van die Sirkel Middelland Bestuur.

 

Na ‘n teebreuk word Dr Olive Muller, die plaaslike dokter, aan die woord gestel om die vergadering meer te vertel oot Alzheimer’s.  Op 80 het 40% van mense dimensia en 20% Alzheimer’s – dit is dus ‘n siekte wat redelik algemeen voorkom.  Enigiemand kan dit kry en daar is geen spesifieke oorsaak nie, alhoewel oorerwing ‘n redelike faktor is.  Diagnose is moeilik en dit word bepaal deur ander siektetoestande uit te sluit, eerder as om positief daarvoor te toets.  Die faktore wat Alzheimer’s vererger, sowel as die fases en verloop van die siekte word bepreek.  Dis ‘n progressiewe siekte wat nie genees kan word nie.  Daar is medikasie wat die agteruitgang tot ‘n sekere mate kan vertraag en verder word slegs simptome behandel.  Mense in die laaste fase vereis voltydse versorging en die familie het baie hulp en ondersteuning nodig.  Dr Muller deel ook pamflette van die Alzheimer’s Vereniging uit en beantwoord vrae van lede.  Stephnie van Zyl (Sameroeper Gesondheid) bedank Dr Muller en oorhandig ‘n geskenk.

 

Laastens word Lize de Jager en Carina Esterhuizen gelukgewens met hul verjaarsdae en Jean Watermeyer wen die gelukkige trekking van die dag.

 

Vlnr: Stephnie van Zyl (Sameroeper Gesondheid), sprekers Dr Olive Muller en John Peniston, Lea van der Vyver (Voorsitter)