Sirkel: Middelland

Tak: Kraggakamma

Portefeulje: Landbou

Beriggewer: Margaret van die Mescht

Datum: 14 Maart 2017

 

Bonita Francis van die Nasionale Wolkwekersvereniging is die spreker by ons vergadering. Sy bespreek die waarde van skape sedert Bybeltyd. Nie alleen word die wol gebruik nie, maar ook die vleis, horings en vel. Skape het ook melk verskaf.

 

Bonita Francis, ons spreker van die Nasionale Wolkwekersvereniging

 

Die NWKV het gedurende 1929 ontstaan uit `n diepe behoefte om wolboere te organiseer om gesamentlike belange te bevorder en op gestruktureerde wyse met die regering van die dag te onderhandel. Die organisasie het gegroei en is mettertyd aanvaar as die geloofwaardige stem van die Suid-Afrikaanse wolboer. Die hoofkantoor is in Port Elizabeth met streekkantore in ander dele van die land.

 

Van die lede wat die uitstalling bewonder

 

Die wolvesel is baie veelsydig. Dit hou die verbruiker koel wanneer hulle aktief is en beskerm die draer teen drastiese weersomstandighede. Wol is 100% natuurlik. Dit is `n natuurlike proteienvesel wat soortgelyk is aan menslike hare. Daarby is dit `n hernubare hulpbron. Die inname van `n eenvoudige mengsel van water, lug, sonskyn en gras veroorsaak dat skape elke jaar `n nuwe vag produseer. Wol is ook `n alternatief tot verkwistende verbruikerspraktyke. Navorsing toon dat die gemiddelde lewensduur van `n wolproduk tussen 2 – 10 jaar is teenoor 2 – 3 jaar vir produkte gemaak van ander vesel. `n Ander goeie eienskap van wol is dat dit oor jare ontbind en waardevolle stikstof-gebaseerde voedingstowwe in die grond afskei. Dit is ook reuk-bestand. Klere hoef nie noodwendig gewas te word nie, maar net “lug” kry. Wolklere kan dus langer gedra word tussen wasse. Wol is brandbestand en brandvertragend. Wol se unieke selstruktuur vereis hoë vlakke van suurstof om te brand en vorm `n isolerende laag wat verhoed dat vlamme versprei. Wol sal nie smelt, drip of teen die vel vassteek wanneer dit aan uiterste hitte onderhewig gestel word nie. Nog `n eienskap van wol is dat dit die slegte reuke van bakterieë weerhou wat met sweet vrygestel word. Die wolvet word as basis gebruik vir vele kosmetiese produkte.

 

`n Uitstalling van die wol

Sy sluit af met die woorde van Mnr. Peter Ackroyd van International Wool Textile Organisation “Wool lasts and we are asking people not to buy too much, It’s a strange message, but buy well and keep it.”

 

Interessante  feite oor mense wat staatmaak op wol vir warmte en beskerming:

  • Ruimtevaarders in die Ruimte
  • Matrose wie oseane navigeer
  • Polêre wetenskaplikes
  • Persone wat vir olie boor in sub-zero temperature in Alaska
  • Brandweermanne

 

Bonita Francis gesels met Marietjie Conradie en Talitha Botha

 

Bekers word aan Joey Barnardo vir haar groetekaartjie van quilling en Margaret van der Mescht  vir blommekuns oorhandig.

 

Laurena Honiball, vise-voorsitter (middel) saam met die bekerwenners Joey Barnardo (links) en Margaret van der Mescht

 

Twee van Joey Barnardo se groetekaartjies versier met quilling