Sirkel: Middelland

Beriggewer: Marlene Erasmus

Datum: 11 Maart 2017

 

Sirkel Middelland: 83 ste Konferensie

 

Daar is altyd ‘n eerste keer om iets te doen en vanjaar het Sirkel Middelland vir die eerste keer op ‘n Saterdag Konferensie gehou.

 

Die dames het reeds vroegdag van heinde en ver op Uitenhage aangekom. Die Konferensie is deur Hanekam Tak aangebied en wel by Die Kontrei Gastehuis. Die dames van Hanekam het almal vriendelik ontvang en ons is bederf met heerlike koffie, tee, sap en muffins.

 

Ds Christo Stumke het die verrigtinge geopen met ‘n besielende boodskap oor vroue wat sag en soos Jesus moet wees. Die Here het die vrou ‘n aanpasbare wese gemaak en hy het ons uitgedaag om dit te wees.

 

Ds Christo Stumke en Wilandi Esterhuyzen

 

 

Mev Ria Krause, Saamroeper vir Openbare Sake het die Vriendskapskers aangesteek.

 

 

 

Mev Sugnet van Wyk het oor Geestes Weerbaarheid gepraat. Die mens is nie gemaak om alleen en binnetoe te lewe nie. ‘n Vrou se werk is nooit klaar voor sy nie iemand anders ook geleer het om dit te doen nie. Alles wat ons doen, is saad wat ons plant, maar dit sal eers in die volgende generasie geoes word. Ons leef in ‘n tyd wat ons braaf moet wees, maar ons hoef nie bang te wees nie, want die Here rus ons toe om ‘n soldaat te wees.

 

 

Mev Sugnet van Wyk

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons gasspreker was Mev Lana van Niekerk. ‘n Vrou moet kan aanpas, inpas en deel word van die lewe. Ons liggame laat ons soms in die steek, soos met haar siekte, maar ons leer ook om daarby aan te pas. Ons moet nie dink ons moet alleen daardeur gaan nie, want ons het God, vriende en familie om ons te help.  Ons moet met God praat, onsself ontdek en aanpas en verander waar nodig. Ons moet ons storie vertel sodat ander daaruit kan leer. Ons moet lag oor die dag wat kom.

 

 

Mev Lana van Niekerk

 

 

 

 

 

 

Ons was ook bevoorreg om Mev Karien van Schalkwyk, VLVK President, tydens ons Konferensie hier te verwelkom. Sy bring die volgende boodskap: Aanpasbaarheid en buigsaamheid gaan hand aan hand. As jy verandering moet ervaar, is dit ‘n geleentheid om positief aan te pas. Sonder aanpasbaarheid is daar geen kreatiwiteit nie. Die manier waarop jy terugslae hanteer, is baie belangrik.

 

 Mev Karien van Schalkwyk, VLVK President

Wilandi Esterhuyzen van Koekedoorfaam het ons ook besoek. Sy vertel van al haar wedervaringe agter die skerms en op stel. Dit was heerlik om na haar te luister. Hierna demonstreer sy vir ons hoe om sjokolade truffels te maak. Ons kon almal daaraan proe – selfs lekkerder as Lindt sjokolade.

 

 Suzette Schoeman, Lynette Martin, Sirkel President van Sirkel Middelland en Wilandi Esterhuyzen

 

In haar Presidentsrede noem Mev Lynette Martin dat aanpasbaar die volgende beteken: Verander, skik na. Jy moet aanpas by ‘n nuwe omgewing, nuwe modes, nuwe (veranderde) sedes en nuwe onderrigmetodes. Hoe doen ons dit? Werk aan jou positiwiteit – dink drie positiewe gedagtes teenoor een negatiewe gedagte. Wat kan ek hieruit leer? Dink goed, verwerk die feite en besluit dan wat om te doen. Wees meelewend – die brein skei serotonien af as ‘n mens gelukkig voel. Wees liefdevol teenoor ander, dan sal jy baie gelukkiger wees. Take care of yourself (selfsorg) – sorg dat jy genoeg slaap kry en eet gesond. Doen iets waarvan jy hou en bederf jouself dikwels. Sien die snaaks in ‘n situasie – Lag kan pyn verlig. As jy die “snaaks” in jou situasie sien, sal dit jou help om jou situasie te verwerk na ‘n meer aanvaarbare spanningsvlak. Ons moet ook bereid wees om te verander ter wille van ons Vereniging. Maak dit jou missie om die onaanpasbare lede te motiveer om ook aan te pas.

 

Aneen de Jongh, Saamroeper van Kunste en Handvlyt, vertel vir ons meer van die Afrikaburn wat jaarliks in die Tankwa Karoo plaasvind. Dit is ‘n gemeenskap van deelnemers wat bymekaarkom om kuns te skep en dan weer die strukture te verbrand.

 

Hannelie Low, Saamroeper van Landbou en Tuinbou, demonstreer hoe om ‘n denneboltoring te maak. Dennebolle word aanmekaar gelas en dan word daar plantjies  in die opening geplant.

 

Manno Mostert en Tersia Strydom het die dames heerlik laat skaterlag met hul toneelstuk, Katriena Vertel.

 

                                              Manno Mostert en Tersia Strydom

 

Mev Helen Crouse, Ere-Sirkel President van Sirkel Middelland is reeds 60jaar ‘n VLV lid – wat ‘n wonderlike mylpaal. Mev Lynette Martin het vir haar haar diensknopie aangesteek. Hierdie diensknopie het ook aan Helen se skoonma behoort.

 

 Mev Lynette Martin en Mev Helen Crouse, Ere-President van Sirkel Middelland

 

Die prysuitdeling het ook weer vir groot opwinding gesorg. Mev van Shalkwyk het die trofeë oorhandig. Despatch was derde, Alexandria tweede en Carpe Diem was die algehele wenner.

 

 

 

 

 

 

 

Mev Karien van Schalkwyk en Juby Bubb Vermaak van Despatch

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

       

 Blommerangskikkings: Dreams at Midnight