Sirkel: SWD

Tak: Sedgefield

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: June Lötz

Datum: 10 Maart 2017

 

Sedgefield verken die Montagu Pas en omgewing:

 

Gedurende Maart besoek die VLV Sedgefield-tak se lede, met hul gades en geselle, Herold, die historiese dorpie, Herold Wines Landgoed en die Suid Afrikaanse Brouery hopsplaas.

 

Herold, die pragtige 1870 Karoo dorpie is geleë halfpad  tussen George en Oudtshoorn, aan die bopunt van die Montagu Pas. Die eertydse poskantoor en polisiestasie geboue word tans bedryf as ‘n gastehuis.  Die ”Over the Mountain” Gastehuis spog nog met die oorspronklike Geelhout vloere en – vensterrame en Dennehout plafonne.  Baie van die statige ou meubels is gemaak van plaaslike Swarthout.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Alhoewel die N G Kerk, fokuspunt van die dorpie, eers in 1954 ingehuldig is, is daar geen tekort aan historiese sjarme nie. Met die instap heers daar ‘n gewyde atmosfeer en hang daar ‘n swaar reuk van hout in die gebou. Voor in die kerk pronk die groot hout preekstoel van dieselfde hout as die lang aaneenlopende houtbanke. Op die gallery ‘n orrel met reuse orrelpype.

 

 

 

 

 

 

 

Die pragtige kerk is die fokuspunt in Herold

 

Net ‘n paar kilometers van die dorpie was Herold Wines Landgoed se produksielyn in volle swang. Hier is die hele proses verduidelik, van die aanplant van die wingerd, tot by die proe van die wyn. In 1999 is die tradisionele hopslande vervang met ‘n verskeidenheid Pinot Noir variteite wat baie goed in daardie klimaat aard. Intussen is nog kultivars suksesvol aangeplant, Sauvignon Blanc, Merlot, Shiraz, Cabernet Sauvignon  en Chardonnay. Dié plaas spog met 7 wyn-etikette.

 

Sedgefield proe wyn by Herold Wines

 

Daar is ook ‘n draai gemaak by die naburige plaas. Hierdie plaas behoort aan die Suid Afrikaanse Brouery. Hulle verbou verskillende kultivars van die hopsplant. Dit was oestyd, ’n skouspelagtige gebeurtenis. Die lang groen hopsranke het soos gordyne van die stropers af gehang. Die hopsplant is ‘n meerjarige slingerplant. Die enigste kommersiële gebruik vir die plant is om die bitter smaak aan bier te gee. Slegs die blomkegels word gebruik. Die res van die plant word teruggewerk in die lande en dien as bemesting. Die spesifieke kultivar hops wat op daardie oomblik geoes was, word uitsluitlik gebruik vir die maak van Brutal Fruit. Jan van Riebeeck het reeds die eerste jaar van sy aankoms uit Nederland in 1652, die eerste hops in die Kaap aangeplant.

 

Oestyd op ‘n hopsplaas in die Montagu Pas

 

Na nog ‘n leersame uitstappie ry die groep deur die skilderagtige Montagu Pas met al sy interessante stilhou plekkies, terug Sedgefield toe.