Sirkel: Overberg

Tak: Hermanus

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Diana Lambrechts

Datum:  8 Maart 2017

 

Leefstyl het Estelle Spaarwater as gasspreker na die maandvergadering genooi.

 

Haar kwalifikasies is ‘n B.Sc graad en in-huis opleiding by Bobby Mantel Skool vir Interieur-ontwerp.  Haar bekendheid verwerf sy met haar tweeweeklikse rubriek in die bekende vrouetydskrif Sarie.   Sy en haar man het vir 10 jaar ‘n gastehuis besit en toe die aftrede in Hermanus.

 

Estelle Spaarwater het ‘n lang verbintenis met VLV, omrede haar tyd as redaktrise by Sarie. Sy onthou dat sy ongeveer 16 jaar gelede ook ‘n spreker by Hermanus VLV was.

 

Die VLV tema, Aanpasbare Vroue  is vir haar baie gepas, want daar is min vroue wat nie kan aanpas of dinge kan laat aanpas nie.  Sy gebruik haar aftrede, afskaal en aanpas as tema vir haar praatjie. Die kleiner huis wat jy moet betrek met aftrede kan moeilik wees, maar dit is belangrik om dit vir jou lekker te maak en te onthou, minder is eintlik meer.

 

 Balans, proporsie en kleur is altyd die sleutelwoorde.Smaak is ‘n persoonlike ding en daar is geen reg of verkeerd nie.

 

Bly net getrou aan jouself en jou eie behoeftes en dit sal reg wees vir jou.  Skep ruimte in die kleiner woning en hoë plafonne is altyd ‘n pluspunt. Dit is belangrik om altyd te probeer om die meet, verf, vloer en alles wat gedoen moet word te doen voor jy intrek.

 

Die raamwerk moet neutraal wees. Moet nooit sterk kleure teen die mure gebruik nie, bly by ligte kleure, nude is tans die gewildste kleur. Die plafon moet beslis ligter wees as die mure – verkieslik wit. Indien die vensters klein is, vergroot dit deur vollengte gordyne wat hoër as die venster begin en tot op die vloer strek, te gebruik.

 

Die raamwerk moet dan aangevul word met kleur.  Kies gerieflike groot meubels al is die vertrek klein. Na aftrede soek mense stoele en banke wat gerieflik is vir gaan sit en opstaan. Wees bedag op stoffering – liefs een gerieflike bank met oop armrelings.  Veelsydigheid is belangrik in klein ruimtes. Vir tafels is glas met hout of metaal die regte keuse.  Kies verskillende kleure en style solank hulle net saamsmelt.  Maak gebruik van baie kussings – dit bind kleurskemas en kussings kan ook meer  gereeld vervang word as meubels of gordyne. Groot kussings is tans hoog mode.  Kleur is magies, gebruik een hoofkleur en laat die ander kleure ingroei. Rooi is lewendig, moenie bang wees om dit te gebruik nie, doen dit net spaarsamig. Diepgroen is tans die gewildste kleur maar wees versigtig vir groot ontwerpe.

 

Gebruik die mure voluit, bou boekrakke en plaas skilderye op fokuspunte. Daar is nie ‘n definitiewe manier van skilderye hang nie, dis persoonlike smaak maar verkieslik moet die onderkante op dieselfde lyn wees.   Groepeer altyd die klein ornamente, maar onthou die balans, hoogtepunt en proporsie.

 

Vloerbedekking moet verkieslik dieselfde kleur deur die hele huis wees. Dit vorm ‘n eenheid. Maak gebruik van laaie, dit is soveel gemakliker om net ‘n laai oop te trek as om in kaste te buk.

 

Die Voorsitter, Magda Marais, open die vergadering.

 

Estelle Spaarwater spreek vergadering toe.

 

                 Nelmarie Theron wys een van die hardanger borduurartikels wat konferensie toe gaan.