Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 8 Maart 2017

 

Acqua-tak is uit die kuipe vir 2017. En as die Maartvergadering enigsins die pad vorentoe aandui, is Acqua-lede se verwagting van ‘n leersame, opwindende jaar geensins verkeerd nie.

 

Die onderwerp en spreker vir die Landbou & Tuinbou vergadering het die dames op hulle stoele vasgenael gehou. Arnold Slabbert van die Urban Raptor Project, www.urbanraptorproject.co.za, is ‘n man wat sy storie ken met slange, bye, rotte, muise, ystervarkies, skilpaaie, grysbokkies, ape, bobbejane, uile, valke en enige ander dier of reptiel wat ‘n slagoffer geword het van verstedeliking, vergiftiging en menslike inmenging. Dis nou ‘n man wie se nommer jy op spoedlui behoort te hê, want wat gemaak as daar’n slang onder jou yskas skuil? Wat gemaak as ‘n trop ape hul intrek in jou buurt neem? Die vierbeen-soort! Dit mag dalk vir jou onmoontlik klink, maar wees verseker Arnold  het al baie met sulke en nog vreemder situasies te doen gehad.

 

Hy’t heelparty baie interessante feite op die punte van sy vingers. Probleem met muskiete? Vlermuise vang tot 600+ muskiete in ‘n uur en omdat hulle op 3 spesies (kom voor in Suid-Amerika) na, almal insektivore is, is jy heeltemal veilig met ‘n vlermuis in jou tuin of huis.

 

Gepla met muise en rotte? Die grillerige gediertes wat in jou huis kom nes skop sal inheemse spesies wees. Hulle kom bly by jou omdat daar vir hulle kos en lekker vuil blyplek is. Goeie higiëne en geen toeganklike kosbronne nie, sal verhoed dat jy ‘n uil in die agterplaas moet hê. Uile sal op natuurlike wyse van die verpestelike knaagdiere ontslae raak. ‘n Uilgesin van vier kan tot 1000 knaagdiere per jaar vang. Die gebruik van gif is die gevaarlikste, dodelikste en heel laaste uitweg, omdat die knaagdiere merendeels immuun is teen die gif, maar veral die roofvoëls wat die knaagdiere vang, geen immuniteit teen die gifstowwe het nie. Sekondêre vergiftiging is ‘n bron van groot kommer, veral onder die stedelike uilbevolking.

 

Die Nelson Mandelabaai stadium is die enigste gifvrye stadium ter wêreld. Knaagdiere en wilde duiwe word beheer sonder gif en met die hulp van ‘n paar swerfvalke, gevlekte ooruile en bontkwikkies. ‘n Soortgelyke projek word by die Logistieke Park by die Hawe van Ngqura bedryf.

 

Dit was nou ‘n vergadering, spreker en onderwerp wat VLV waardig was. Niemand is daar weg sonder  meer kennis en ‘n baie breër verwysingsraamwerk nie.