Sirkel: Noord Karoo

Tak: De Aar

Beriggewer: Patty van Heerden

Datum: 9 Maart 2017

 

Dit is hierdie jaar De Aar se voorreg om die Sirkel konferensie aan te bied. Ons tak het 15 lede en so te sê almal aan die verkeerde kant van 60. Daarby kan ons roem dat ons almal kinders en kleinkinders het, maar ons staan vir geen tak met jonger lede agteruit nie!

 

Ons het dit geniet om geld in te samel vir die konferensie. In die proses het ons met die oop harte van ons dorp se gemeenskap kennis gemaak. Een van die maniere was om ou klere en huishoudelike items op ‘n maandelikse straatmark te verkoop. ‘n Mens is so geneig om op te gaar en ons het besluit dat ons andere se harte bly wil maak. Almal het mildelik bygedra. In die proses het die lede nader aan mekaar gegroei. Elke maand se verkope was dan ook sommer ‘n lekker saamkuier in die opelug en gesels en beplan rondom die konferensie.

 

Die vrolike foto is deur ‘n lid se man geneem. Dit was met die laaste vergadering voor die konferensie. Almal het die verwagting dat dit weereens ‘n    heerlike saamkuier van jarelange vriendskappe gaan wees, met een gemeenskaplike belang, naamlik die Vroue Landbou Vereniging.