Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 28 Februarie 2017

 

   “GESONDHEID IN DIE RONDHEID, AL DIE MOOI MEISIES IN DIE BLOMTYD!”

 

Met al die Kleinmondse VLV-lede in een of ander vorm van rooi getooi, is op ‘n feestelike wyse tydens die Februarie-maandvergadering afskeid geneem van die maand van liefde. Die gasvroue van die Gesondheidgroep het die gaste en lede ingewag met Valentynsjokoladetjies en ‘n verdere bederf van tydskrifte, inligtingstukke en ‘n duet van liefdesliedere met romantiese kitaarbegeleiding!

 

Elandi Basson van die plaaslike Oasis-skoonheidsalon het ter aanvang meer vertel oor hoe belangrik ‘n vrou se wenkbroue is: dit rond af en omraam die gesig. Die modetydskrif Vogue noem wenkbroue “die skoonheidswêreld se mees revolusionêre bate”. Terwyl die vergadering aan die gang was, het sy ‘n kliënt se wenkbroue met die semi-permanente microblading-tegniek ingekleur en verander van uitgedun na voller, en sodoende ‘n duidelike verandering bewerkstellig. Op diè foto is dit duidelik sigbaar:

 

 Die merkbare verskil wat aan die kliënt se wenkbroue te sien is.

 

Karlien Venter, plaaslike apteker, het die lede kom inlig oor watter dienste alles by die apteek as primêre gesondheidsorgsentrum, beskikbaar is. Pasiënte hoef nie meer vir minder ernstige noodgevalle ‘n dokter te besoek nie, want enigiets van ‘n bysteek en ‘n snywond tot urinetoetse en mangelontsteking kan deur die apteekpersoneel hanteer word. Selfs vakansiegangers wat kroniese medikasie tuis vergeet het, kan gehelp word. Sy het waardevolle inligting gegee oor die behandeling van brandwonde (hou onder koue lopende water om af te koel, en moenie botter aansmeer nie!), beroerte (kry binne drie uur by Vergelegen Medikliniek) en diarree a.g.v. voedselvergiftiging (sorg vir genoeg helder vloeistof). Kontaknommers van die verskeie mediese dienste wat in Kleinmond en Hermanus beskikbaar is, is verskaf.

 

 

 

 

 

V.l.n.r. Cecile Jonkheid (voorsitter), Karlien Venter (spreker) en Lisbè Badenhorst (taksaamroeper vir Gesondheid) nadat ‘n VLV-gedenkblikkie met beskuit en ‘n ruiker aan haar oorhandig is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dit was ‘n vreugdevolle oomblik vir Tienie Symington toe Cecile Jonkheid, voorsitter, vir haar die 60-jaardiensknopie kon aansteek. ‘n Ruiker is aan haar oorhandig, maar ook aan Paula Haasbroek wat die taklede nà 20 jaar moet groet om na Namibië te verhuis.    

Tienie Symington ontvang haar 60-jaardiensknopie van Cecile Jonkheid

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Paula Haasbroek (links) word deur voorsitter Cecile Jonkheid gegroet.