Sirkel: Overberg

Tak : Kleinmond

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Alice van Rooyen

Datum 27 Februarie 2017

Fotograaf; Hermien van Zyl & Alice van Rooyen

 

VLV-KLEINMOND VIER OOK NASIONALE MELKTERTDAG

Die inisiatief van ‘n melktertdag is op 27 Februarie 2013 deur die tydskrif Weg! geneem. Dié tydskrif se joernaliste het besef dat  melktert die perfekte  teenvoeter is vir die laatmiddag-tamheid wat op ’n mens toesak. Op Weg! se webwerf verduidelik hulle dit wat gevolg het só: “Dié nuus was te goed om nie te verkondig nie, en die daaropvolgende jaar was vriende, lesers, radiostasies, Facebook-kennisse, koffiewinkelbase en sjefs oorgehaal om ook op 27 Februarie melktert te bak, te sny en saam met geliefdes te geniet. Omtrent oornag het iets wat as ’n hunkering na ’n soetigheidjie begin het, gegroei tot Nasionale Melktertdag”.

 

 In samewerking met Ladismith Botter het dié nederige tertjie die erkenning gekry wat dit verdien: die status van volksbesit.

 

 

 

 

 

 

Naas doodgewone pret is die doel van Nasionale Melktertdag ook om Suid-Afrikaners weer daaraan te herinner dat ons meer in gemeen het as wat ons dink – ons almal het met melktert grootgeword, en dié lekkerny is steeds immer teenwoordig by al daardie groot okkasies in die lewe – nóú, maar ook toe jy nog ’n pikkie was. Nasionale Melktertdag skryf nie voor nie. Maak jou melktert self of koop dit. Gaan korsloos, gebruik jou eie skilfer- of smeerkors of koop dit klaar. Strooi kaneel of kaneelsuiker oor, of hou dit naak. Al pleidooi is dat jy die dag ingaan met minstens twee terte : die ekstra melktert is daar om uitgedeel te word.

 

VLV-Kleinmond was vanjaar deel van hierdie spesiale dag se feesviering en heerlike  melktert is by ons plaaslike poskantoor,  polisiekantoor, die Overstrand Herald, munisipaliteit, biblioteek en ook by ons plaaslike dokters afgelewer. Dit wat nie self gebak kon word nie, is deur die vriendelike Johnny van Kleinmond Superspar se delispan louwarm voorsien en Angie’s Deli het ook gehelp.

 

Melktert is toe nie so eie aan S.A. soos ons gedink het nie!  “Talle ander lande het ’n weergawe van dié lekkerte” vertel Hetta van Deventer-Terblanche, koshistorikus en Kokkedoor-beoordelaar. “Soos baie van ons ander kos-erfstukke is melktert ’n goeie voorbeeld van soetigheid wat reeds van die Middeleeue af bekend is. Dit is mos júis een van die kenmerke van ons kookkuns – dat verouderde smake, resepte en tegnieke hier behoue gebly het, teenoor ander dele van die wêreld waar die modegiere van die dag nagejaag is.”

 

“Melktert se stamboomwortels strek terug tot by die Romeine, pioniers van die eiervla. In die Middeleeue moes vindingryke kokke maniere vind om die streng kerkreëls wat suiwelprodukte op vasdae verbied het, te omseil.  Met die verslapping van die vasreëls het eiervla weer sy buiging gemaak, dié keer in ’n triomfantelike skilfer- of broskors. Selfs die tradisie om kaneel of kaneelsuiker oor te strooi, kom uit dié era” vertel Hetta verder.

 

“Niggies en nefies van ons melktert kan steeds geproe word in Portugese vlatertjies, pastéis de nata, die Griekse galaktoboureko filo-vlatert, Frans-Baskiese amandel- en vlatert, Britse vlaterte, Filippynse vlagebak en Amiese vlapasteie in Noord-Amerika. Die Spanjaarde met hul flans, crema catalane en leche frita (gebraaide vla) is ook vlameesters, en die Italianers is verlief op torta di nonna met dennepit-vla en pasta ciotti – amandelgegeurde hand-vlatertjies’, sê sy.

 

Die hedendaagse weergawe van ons geliefde  melktert is vir melktertkaaskoek. Dit klink heerlik, maar niks klop ‘n regte egte melktert met ‘n skilferkors nie! En VLV het deur die jare hierdie tradisie help bewaar.

 

Cecile Jonkheid, voorsitter (links) en Marita Grobler (taksaamroeper vir Openbare Sake) oorhandig melkterte vir die personeel aan Grant Cohen, raadslid by die munisipaliteit.

 

Yolishwa Konzapi (links voor) hou die melktert vas wat Hermien van Zyl en Cecile Jonkheid (regs agter) by die biblioteek kom aflewer het. Saam met hulle is Venda de Jager (links agter), bibliotekaris en Susan Smith (voor)

 

V.l.n.r. Etta Eksteen (VLV-lid), Elvisia Wildschut, Riaan, Clement Makka en Venia Lewis van die poskantoor, Cecile Jonkheid (VLV-voorsitter)

 

Lisbè Badenhorst (regs) taksaamroeper vir Gesondheid, het heel gepas ‘n melktert gaan oorhandig aan die dokters en die personeel by die mediese sentrum. Betsie het dit in ontvangs geneem.

 

Marita Grobler (taksaamroeper Openbare Sake)glimlag breed toe die VLV-lede by die oorhandiging by die polisiestasie hoor dat konstabel Tshethi en sy assistent me Mzinyati in isiXhosa vir mekaar sê hoe lekker dit gaan smaak! Melktert is lekker in enige taal!