Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum:15 Februarie 2017

 

Op Woensdag 15 Februarie 2017 kom Aberdeen VLV byeen vir ‘n praktiese Leefstyl vergadering in die Klubsaal op die dorp.

 

Lea van der Vyver (Voorsitter) verwelkom almal teenwoordig en open die vergadering met ‘n boodskap oor vriendskap uit die Woord.  Vriendskappe is ‘n seën en ons moet iets van onsself gee om ‘n goeie vriendin te wees.  In die proses saai ons liefde en vrede om ons, maar ervaar dit ook in ons eie harte.  Daarna word ‘n paar VLV sake bespreek, waarna die praktiese deel van die vergadering afskop.

 

Suzanne Lategan (Sameroeper Leefstyl) het werklik moeite gedoen om interessante brokkies van haar porefeulje deur te werk.  Eerstens het elkeen ‘n lappie, naald en gare gekry en is daar stap vir stap gewys hoe om ‘n eenvoudige sneesdoekie houertjie vir jou handsak te maak.  Daar is omtrent gekonsentreer en gelag – vir meeste was dit baie vreemd om die eerste keer in jare naaldwerk te doen!

 

Lategan gee aan elkeen ‘n glasflessie met verfrissende voetsout vir sagte voete en deel ook die resep oor hoe om dit self te maak.  Daarna demostreer sy hoe om jou eie grimeerverwyderaar te maak sodat jy nie duur produkte hoef aan te koop nie.

 

Laastens skuif die fokus na kos en Lategan gee ‘n praatjie oor die bevriesing van geregte vir latere gebruik.  Verskeie idees en resepte word gedeel waarna lede na die kombuis skuif.  Hier begin nog ‘n praktiese sessie waar elkeen haar eie klein appeltert voorberei met voorbereide bestanddele wat Lategan gebring het.  Dit sorg natuurlik ook vir groot pret en kreatiwiteit om elke tertjie uniek te maak.

 

Terwyl die appeltertjies bak, word beplande gemeenskapprojekte in meer detail bespreek.  Annelize Lategan word gelukgewens met haar verjaarsdag en Lea van der Vyver wen die gelukkige trekking.

 

Die vergadering word afgesluit met ‘n koppie koffie en eetgoed terwyl idees vir volgende vergaderings uitgeruil word.

 

Suzanne Lategan (Sameroeper Leefstyl) demonstreer die maak van die sneesdoekie houertjie terwyl Luise de Jager (regs) haar navolg.

Vlnr Elise Steynberg, Carina van der Westhuizen en Lize de Jager ryg gare deur die naalde.

 

Vlnr Gloria Peniston, Diane Nel, Elna van Niekerk en Elise Steynberg begin met hul appeltertjies