Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 31 Januarie 2017

                                 

  AANPASBARE VROUE IS INGELIGTE VROUE

 

 

 

 

Normaalweg is die eerste vergadering op VLV-Kleinmond se jaarprogram ‘n inligtings- en beplanningsvergadering vir die nuwe jaar, maar met hierdie eerste vergadering het die lede ook gehoor wat is in Grant Cohen, DA-raadslid, se visier vir die komende termyn.

 

As relatiewe nuwe intrekker in Kleinmond het raadslid Cohen hierdie uitnodiging van die VLV-bestuur gebruik om homself beter bekend te stel aan die VLV-toehoorders en sy visie vir Kleinmond met hulle te deel. Met sy “oop deur”-benadering het Cohen die lede oortuig dat hy altyd beskikbaar is vir enige probleem, rakende die munisipaliteit, wat mag opduik. Hy het reeds by verskeie projekte en programme betrokke geraak om spesifieke probleme aan te spreek soos die bekamping van jeugmisdaad. ‘n Groot mate van sukses word behaal deur straatkinders by karate-lesse en sagtebal-afrigting te betrek en van hulle is ook terug skool toe. Deur voorligting via die “Fire Wise Community”-program poog Cohen om die gemeenskap meer bewus te maak hoe om brande te verhoed. Kleinmond is omring deur van die area se mooiste fynbos en onbeheerste brande het ‘n groot impak op die omgewing.

 

Grant Cohen sien die geweldige toeristepotensiaal van Kleinmond en wil o.a. die Hoofstraat verfraai sodat besoekers nie net sal deurry Hermanus toe nie, maar sal vertoef op Kleinmond. Sy entoesiasme oor die vooruitgang van die dorp het die lede beïndruk en hy sal beslis die samewerking van die VLV-lede kry om van Kleinmond die beste dorp in die Overstrand te maak. Hy is baie aktief op sosiale media en gebruik hierdie platforms om sake van belang onder inwoners se aandag te bring en glo dat met kommunikasie ‘n gemeenskap nader aan mekaar beweeg en groter begrip het vir mekaar se situasies.

 

 

 

 

 

 

 

Alice van Rooyen, self baie aktief betrokke by gemeenskapsorganisasies in Kleinmond, het raadslid Cohen aan die gehoor bekend gestel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Susan Marais(links) hier saam met Grant Cohen en Cecile Jonkheid(voorsitter) het aan die lede demonstreer hoe om ‘n lang onderrok in ‘n kamisool te verander.

 

 

 

 

Lede het sommer met die intrapslag entoesiasties deelgeneem aan die kompetisies. Hier is Daphne Loots(links) en Marie Thomas, twee van die deelnemers saam met Maria Whitehead (regs), die tak se beoordelaar vir gebak.

 

 

 

 

 

Die jaarprogram vir 2017 is aan die lede beskikbaar gestel. Hierdie keurige boekie is opnuut vir elke lid van Kleinmond-VLV ‘n inspirasie dat sy ‘n Aanpasbare Vrou sal wees in 2017.