Sirkel: Kalahari

Tak: Vryburg

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Nellie Viljoen

Datum:  24 Januarie 2017

 

Waterbesparing

Ten spyte van goeie reën wat in groot dele van die land geval het, is daar steeds ‘n tekort aan drinkwater in dele van die land. Daarom wil Vryburg VLV ‘n ernstige beroep op alle inwoners van Suid Afrika doen om water te bespaar.

Hou die volgende wenke in gedagte:

 

Huishoudings:

  • Herstel alle lekkende krane.
  • Draai krane styf toe na gebruik.
  • Indien warm water benodig word, tap die koue water in ‘n houer om later vir kosmaak te gebruik.
  • Beperk skottelgoedwas tot die wasbak vol is.
  • Tap water in ‘n houer om hande af te spoel, i.p.v. om kort-kort hande onder die kraan af te spoel.
  • Hou ‘n emmer in die stort en vang die eerste koue water en oortollige spatwater op en gebruik om toilette te spoel.
  • Indien jy verkies om te stort, maak jou lyf nat en maak die kraan toe terwyl jy seep smeer en was. Maak weer kraan oop om af te spoel, eerder as om water heel tyd te laat loop.
  • Tap water in die wasbak om hande te was, eerder as om onder lopende water te was.
  • Moenie water heel tyd laat loop terwyl jy tande borsel nie. Tap water in ‘n glas.
  • Draai die kraan heelwat kleiner oop om hande of tandeborsel mee af te spoel.
  • Water van die bad of wasmasjien kan ook opgevang en gebruik word om toilette mee te spoel.
  • Vang wasmasjienwater buite in ‘n groot plastiek vuilgoeddrom (of watertenk) op. Sit ‘n kraantjie met tuinslang onder aan en lei bome daarmee nat.
  • Was motors met ‘n emmer water.
  • Plaas ‘n baksteen in toiletbak. Minder water word benodig om bak vol te maak.
  • Dis nie nodig om toilet na elke gebruik te spoel nie.

 

Tuine:

  • Moenie die tuin op die warmste tyd van die dag natmaak of as die wind te veel waai nie. Te veel water gaan verlore of verdamp te vinnig.
  • Gebruik grondbedekkers (blare, molm, boombas of kompos) in beddings om uitdroging te verhoed.
  • Indien jy so gelukkig is om ‘n tuinbesproeistelsel te hê, gebruik ‘n tydskakelaar. Minder water word meer effektief gebruik.
  • Werk kompos of waterhoudende stof (beskikbaar by kwekerye en koöperasies) in jou beddings in. Dit hou water vas en is dus langer beskikbaar vir jou plante.
  • Maak walletjies om beddings, om water binne te hou, anders loop water oral waar plante dit nie benut nie.
  • Gebruik grys water van die huis vir jou tuin (sien bostaande wenke.)
  • Vang afloop water van die lugverkoeler, buite in ‘n houer op, en gebruik vir potplante/tuin.
  • Vang reënwater op in tenks of onder geute en gebruik vir tuin of huisplante.
  • Diegene wat gelukkig is om ‘n boorgat te hê, word ook gevra om oordeelkundig met die water te werk, aangesien die droogte die watervlakke aansienlik laat daal het.

Raad vir hittegolwe:

  • Spuit die liggaam nat met water uit ‘n sproei houer. Water verdamp en koel die liggaam vining af.
  • Maak roomys bakke halfvol water en vries, plaas voor waaier om vertrek af te koel.
  • Maak plastiekhouers half vol water en vries. Vul aan met water en plaas in yskas vir yskoue drinkwater.
  • Ysblokkies kan ure lank koud bly in ‘n drukkoker met die deksel op.

 

Deel hierdie wenke met die huisgesin en leer kinders om van kleins af spaarsamig met water te werk.  Ons wil tog water bewaar vir ons kinders en die nageslag.

 

Spaar water, dit is baie kosbaar.

Sonder water kan niks of niemand bestaan nie.