Sirkel:  Namakwaland

Tak: Vredendal

Datum: 26 Januarie 2017

Beriggewer:  A Beelders

 

 

Vredendal se VLV skop die jaar op ‘n vrolike noot af met ‘n vrugtefees. Die dames was fleurig uitgevat, reg om 2017 aan te durf.

 

Versugtings en sake wat pla word onder die loep geneem. Voorsitter Sanet Ras wys daarop dat die vryheid wat ons geniet verantwoordelikheid meebring, wat sorg vir nederigheid en omgee. Sy hou die pragtige Bybelvers, Miga 6 vers 8 as riglyn voor, ” die Here vra dat jy reg sal laat geskied, liefde en trou sal bewys en bedagsaam sal lewe voor jou God. ”

 

Rita Eitner slyp ‘n byl oor populisme, die verskynsel van ons tyd; maak ‘n draai by finansiële vooruitsigte met betrekking tot die droogtetoestande en verwoestende veldbrande. Sy gee wenke oor hoe om begrotings te laat klop, soos om  versigtig te wees met sogenaamde winskope en spesiale aanbiedings en jou pryse te ken; terwyl die sportprestasies van die Protea krieketspan en die Blitsbokke haar weer moed gee dat Suid-Afrika weer nommer 1 op die wêreldranglys kan wees.

 

Vir Rita Burger geld ds Anton Verwey se riglyne in sy Week van Gebed op Vredendal, soos die vryheid om te droom en te hoop, wysheid wat met verantwoordelikheid kom, wat vra dat jy met regskapenheid sal handel, nederigheid wat jou aan God se voete sal hou en te vra of jy nog op die regte pad is en diensbaarheid met die vermoë om die seën wat jy ontvang te deel.

 

Sake wat kwel, is die toestand in die Onderwys. Na 1994 is weggedoen met die Onderwyskolleges, Tegniese Kolleges en Handelskole. Waar vroeë skoolverlaters voorheen verder onderrig by Tegniese Kolleges of Handelskole kon kry, was hul nou uitgelewer aan die arbeidsmark sonder enige opleiding. Studente kon met ‘n lening  by ‘n Onderwyskollege studeer en afbetaal as hul begin werk. Nou stroom almal universiteite toe en eis vry onderrig, terwyl die aanvraag vir akademiese vaardighede baie kleiner is as vir vakmanskap of ambags vaardighede. Hopelik gaan daar betyds vir die onderwysowerhede ‘n lig op.

 

Op ‘n ligter noot het Nonnie van Wyk die lede laat skaterlag met haar beproewings in die soektog na ‘n swembroek vir die voller figuur.

 

Vir Dalene Hein is daar altyd iets om voor dankbaar te wees en sy glo God stuur jou nie op ‘n klipperige pad sonder stapskoene nie. Vir haar is enigeen wat jou onvoorwaardelik lief het, familie. Probeer om elke aand met ‘n skoon hart en gewete te gaan slaap, en om die Here in die oggend vir ‘n leersame gees en positiewe houding te vra.

 

‘n Spesiale gas, Hannelie van Nieuwholtz verbonde aan Afriforum, het ‘n beroep op die VLV lede gedoen om as vrywilligers betrokke te raak by Afriforum se Helpende Hand. Op die manier kan bystand uit eie geledere verleen word aan Vredendal se Dienskring wat onder beskerming van dr Anna Louw funksioneer. Die Dienskring verleen hulp aan behoeftige mense in Vredendal. Welinda Ford van Helpende Hand besoek Vredendal op 21 Februarie 2017 en sal dan lede se vrae oor die werkswyse van Helpende Hand beantwoord.

 

 

 

Annerita Kearney, Julene Stephan, Nonnie van Wyk en Adéle de Vries

 

 

 

 

 

 

                                                                                                                                       Julene Stephan

 

 Hannelie van Nieuwholtz, Dina Engelbrecht en Dr Anna Roux (voor).