Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 25 Januarie 2017

 

Op Woensdag 25 Januarie 2017 skop Aberdeen VLV op ‘n hoë noot af met ‘n Openbare Sake vergadering in die Klubsaal op die dorp.

 

Lea van der Vyver (Voorsitter) verwelkom almal teenwoordig.  Twee nuwe lede word voorgestel, naamlik Diane Nel en Carina Esterhuizen.  Vier gaste, onder wie oud-voorsitter Mimi Latgegan, woon ook die vergadering by.

 

Elna van Niekerk (Sameroeper Openbare Sake) open die vergadering met ‘n stukkie oor geloof in aksie.  Ons moet die moontlike doen en God dan vertrou vir die onmoontlike.

 

Die eerste onderwerp van die dag is “Plaasveiligheid” en E van Niekerk stel AO Du Plessis en sy assistant, van Breda van die Graaff-Reinet polisie voor.  Hulle is spesifiek belas met plaasveiligheid en het baie ondervinding op die gebied.  Plaasveiligheid is belangrik sodat boere ongesteurd kan boer om voedselsekerheid in die ekonomie te verseker.  AO Du Plessis deel wenke oor selfverdediging en paraatheid, asook wat om tydens ‘n aanval te doen.  Daar word ook geleentheid gegee vir vrae en verdere bespreking oor die onderwerp vind plaas tydens teetyd.

 

Vir ‘n bietjie pret tussen die gewigtige onderwerpe van die dag, deel E van Niekerk die vergadering op in twee groepe wat elk vrae oor verskeie lande in die wêreld moet beantwoord.  Daar word gelag en kop gekrap en uiteindelik eindig albei groepe gelyk.

 

Die laaste onderwerp van die dag is “Alzheimers en die wet” en E van Niekerk open die praatjie deur haar eie ondervinding tydens haar pa se siekte te deel.  Daarna gee sy inligting deur oor die wetlike aspekte en die belangrikheid om betyds iemand aan te stel om die persoon se finansies te hanteer, voordat die siekte in ‘n gevorderde stadium is.  Lede vra vrae en deel persoonlike ervarings.  Daar is ‘n behoefte vir ‘n verdere praatjie oor die siekte vanuit ‘n mediese oogpunt en dit sal later die jaar gereël word.

 

Die vergadering word afgesluit deur idees oor moontlike gemeenskapsprojekte vir die jaar te deel.  Daar word ook klere ingesamel vir ‘n weeshuis in Port Elizabeth.  Die gelukkige trekking van die dag word deur Karin Pienaar gewen en Gloria Penniston word gelukgewens met haar verjaarsdag.

 

                 Elna van Niekerk (Sameroeper Openbare Sake) saam met AO Du Plessis (regs) en van Breda (links)