Sirkel: NOK

Tak: Jamestown

Studierigting: Gesondheid, Leefstyl & Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 16 November 2016

 

Elke lid en gas het ‘n uitdeelpakkie met interessante inligting ontvang. Marlene Lategan het gevra wat sekere konsepte beteken en flitsies as pryse uitgedeel.

Kokedama = ‘n bal grond, met mos bedek, waarop ‘n ornamentele plant groei. Dit word ook die Arm Man se Bonsai genoem. Draad hou die bal bymekaar en soms word die bal ook daaraan opgehang.

Pinata = ‘n Versierde houer gemaak van papier-mâché, klei, of lap. Dit word vol klein speelgoed en lekkergoed gemaak en dan stukkend geslaan as deel van ‘n seremonie of feesviering. Piñatas kom oorspronklik van Mexsiko.

 

Sy het ook die volgende demonstrasies aangebied:

Ontbyt in ‘n koppie. Spuit die koppie met “Spray & Cook”, sny ronde skyf brood uit en sit onder-in, dan mengsel van fyngekapte tamatie en uie,  asook  gaar spek/worsies/maalvleis, met ‘n geklitste eier en gerasperde kaas bo-oor. Sit die onbedekte koppie vir 1 minuut 20 sekondes op Hoog in die mikrogolfoond. Keer eindproduk onderstebo op bord om en versier.

Versuikerde neute. Kook 120 ml water, 60 ml suiker, 1 teelepel kaneel en 1 koppie neute in ‘n pan op die stoof. Roer aanmekaar totdat die neute versuikerd en redelik droog vertoon.

 

 

Die voltooide koppie-ontbyt.

 

Drini van Pletzen het Tuinwenke gegee. Rond tuinrande met bakstene af; Versier swart bakke met houtpaaltjies wat buite-om ingeslaan word; Gebruik herhaling in die tuin, bv. plant meer as 1 vlas; Knip dooie vlasplante laag af – nie net die dooie blare nie; Hoe om kompos te maak. Elkeen het ‘n houer met “Sugar Scrub” ontvang vir skurwe hande ná tuinwerk!

 

Marlene Lategan & Drini van Pletzen

 

Yolandi van Pletzen (Drini se kleindogter) het vertel van haar werk as Arbeidsterapeut. Arbeids -terapie behels om iemand terug te kry soos hy/sy was vóór ‘n ingryping in sy/haar lewe en onafhanklik te funksioneer. Dit kan wissel van ‘n ongeluk tot ondervoeding, rumatoïde artritis, en   handprobleme.

 

Daar is ook ‘n baie belangrike kinderafdeling waar baba’s en peuters evalueer word om betyds gehelp te word, asook kinders wat op skool sukkel. Arbeidsterapie lewer ‘n baie belangrike bydrae in die behandeling van Outisme, ADHD (Attention Deficit Hyperactive Disorder), en ADD.  Iemand met een van die laaste 3 probleme, moenie na ‘n gewone algemene praktisyn toe geneem word vir behandeling nie – daarvoor is daar spesialiste en veral pediaters.

 

Brandwonde, veral derdegraad (wanneer al 3 lae van die vel weggebrand het), baat ook by behandeling deur ‘n arbeidsterapeut, wat AKTIWITEITE gee om te doen, teenoor die fisioterapeut wat slegs OEFENINGE gee. Behandeling moet so gou as moontlik begin word, al is dit hóé seer – terwyl die vel nog elasties is.

 

Beroerte word eers gediagnoseer as dit te laat is. Daarom is dit baie belangrik om jou bloeddruk baie goed dop te hou. Neem dit gewoonlik vroeg in die oggend, voordat jy besig en gestres geraak het. Beroerte is bloeding op die brein wat veroorsaak word deur bloeddruk wat te hoog is, of deur ‘n bloedklont wat gebars het. Dit affekteer die linker- óf regterkant van die liggaam. Bepaal hoe erg daardie kant aangetas is en pas behandeling onder toesig toe. Om pyn te voorkom, moet sekere liggaamshoudings toegepas word. Wanneer iets van die vloer af opgetel moet word, buig in jou knieë – nie die hele rug nie. Moenie langer as 30 minute aanmekaar staan nie. Sit die een voet op  iets soos ‘n bankie, sodat die stremming op die rug nie te veel is nie. Stoot iets eerder as om dit te trek. Moenie iets swaars op jou kop balanseer nie, want die boonste rugwerwels is te klein daarvoor. Stap is die beste oefening ooit! Dit help selfs vir bloeddruk.

 

Outisme neem baie vinnig toe, en kan reeds vanaf 2-jarige ouderdom gediagnoseer word.  Gewoonlik vermoed die ouers onraad wanneer die kind nie tipiese geluide maak of praat nie. Outistiese kinders is anti-sosiaal, rigied in hul gewoontes (moenie verskillende roetes skool toe ry nie!) en nie noodwendig hoogs-intelligent nie.

 

Yolandi se werk behels spesifiek om kinders met persoonlikheids- en leergestremdhede te help inskakel by gewone skole. Kinders SPEEL nie meer nie – daarom is daar so baie leerprobleme! Los die elektroniese speletjies en televisie ‘n bietjie, en gaan verken die wêreld buitekant jul huis!

 

 

Yolandi van Pletzen vertel geesdriftig van haar werk, terwyl haar skoonma, Elise van Pletzen, mooi luister! Sien die bottels “Sugar Scrub” in die voorgrond.