Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 9 November 2016

 

Soos wat 2016 einde se kant toe staan, is daar ‘n gevoelentheid van afwagting in die lug. Lamte in die lendene ten spyt. Ons proe al die agteroor-sit-en-lekker-ontspan van die vakansiedae wat voorlê. Daar is maar ‘n skrale 50 dae voor ons ‘n nuwe jaar betree. Des te meer rede om elke oorblywende dag van 2016 te laat tel!

 

img-20161109-wa0008  img-20161109-wa0007

In die aanloop tot die Kersseisoen was Acqua se Leefstylvergadering op 9 November net die kans om op te hou soek vir die perfekte (bekostigbare) kersgeskenk vir selfs die mees fiemieserige mens in die familie en vriendekring. Acqua het nie net vergadering gehou nie, maar ook Kersmark. Stalletjies met uitsoek goedere het algar sommer ‘n groot voorsprong op hul kersinkopies gegee.

 

img-20161109-wa0016  img-20161109-wa0014

Synde ‘n Leefstylvergadering met die seisoen van groot eet net ‘n smulhappie vêr, het twee kosdemonstrasies inspirasie en kennis gebring.

 

Anne, ‘n Thaise boorling, het stap vir stap gewys om die gewilde Asiese versnapering, spring rolls, te maak. Volgens oorlewering het die spring roll, so genoem omdat dit tradisioneel in die Lente geëet is, hul oorsprong in China gehad. Dié seisoenale gevulde rolletjie het begin as ‘n pannekoek gevul met die nuwe seisoen se vars groente. ‘n Welkome verandering van die gedroogde kosse wat tydens die wintermaande geëet is.

img-20161109-wa0005

 

Wilandi het bewys hoekom sy ‘n Koekedoorfinalis was. Sy het haarself as “soete”door in Acqua-geledere gevestig met die pragtigste (kompleet met ‘n eetbare blommetjie in die sjokolade), lekkerste “sweetie pies” wat sy demonstreer het. Dit sal menige teetafel op Kersdag kan opkikker.

img-20161109-wa0010  img-20161109-wa0004

 

Daar was tot laat gekuier, gekoop, gekyk en geproe. Daar’s nou so min tyd in hierdie jaar oor, dat die Kwa-Kwa’s behoorlik die tyd van samesyn uitgekoop het. Nog net een laaste samekoms is in die pyplyn, voor Acqua se VLV-jaar eindig.