Sirkel:               Middelland

Tak:                  Aberdeen

Portefeulje:        Landbou & Tuinbou en Kunste & Handvlyt

Beriggewer:       Lea van der Vyver

Datum:             9 November 2016

 

Op Woensdag 9 November 2016 word die Aberdeen VLV jaar op ‘n hoogtepunt afgesluit op die plaas Klein De Hoop van Karen van Rensburg naby Kendrew.  Vroue daag op in ‘n konvooi wat ‘n behoorlike stofstreep oor die vlakte laat.  Almal is getooi in ‘n interessante hoed om die dag op te vrolik.

 

Die byeenkoms skop af in die tuin onder die groot koeltebome.  Lea van der Vyver (Voorsitter) verwelkom almal en open met ‘n skrifgedeelte uit Korinthiërs 4 wat sê dat ons nie moet moed opgee in moeilike tye nie, maar op die ewige, onsigbare dinge moet fokus.  Die VLV program vir 2017, wat by die vergadering in Oktober beplan is, word aan lede uitgedeel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Na die amptelike sake afgehandel is, neem Karen van Rensburg (gasvrou) die groep op ‘n begeleide toer deur haar pragtige uitgestrekte tuine met talle hoë koeltebome en blombeddings.  Op verskeie plekke is daar interessante fokuspunte, soos ‘n klein donkie en ‘n ysterfiets wat met blomme versier is.

 

aberdeen-1

Donkie in die tuin.

 

Na die tuintoer word daar iets gedrink en Annalie Lategan (Sameroeper Landbou en Tuinbou) vertel die groep meer oor tuinversorging gedurende droogtetye.  Die tuin moet vroegoggend natgemaak word en liewer nie met ‘n sproeier nie, aangesien die son dan die nat blare brand.  Maak ook liewer die tuin minder gereeld, maar dieper nat en bedek die grond met ‘n deklaag om vog so lank moontlik te bewaar.  In droë, warm tye moet daar liewer nie nuwe aanplantings gemaak word nie.

 

Die volgende item op die program is die voorlees van ‘n gunsteling gedig of stukkie.  Elkeen deel iets na aan haar hart en lees haar stukkie voor vir die groep.  Karen van Rensburg word as die wenner van die mees interessante hoed aangewys en sy ontvang ‘n geskenk.  Karin Pienaar, Jean Watermeyer en Heidi Lombard word ook gelukgewens met hulle verjaarsdae en ontvang geskenke.  Verder het elk ‘n Kersgeskenk saamgebring en dit word in die rondte gestuur en uitgeruil.  Laastens bedank Annalie Lategan vir Karen van Rensburg vir haar gasvryheid en oorhandig ‘n geskenk.

 

aberdeen-3

Vlnr Annalie Lategan (Sameroeper Landbou en Tuinbou), Karen van Rensburg (gasvrou en wenner van interessanste hoed) en Lea van der Vyver (Voorsitter)

 

Die propvol program word afgesluit met ‘n heerlike vingerete en vonkelwyn terwyl almal saamkuier en gesels.  Elise Steynberg word tydens ete as nuwe lid verwelkom.

 

aberdeen2

Agter vlnr: Mimi Lategan, Shirley Rabie, Karin Pienaar, Louise de Jager, Jean Watermeyer, Lea van der Vyver, Annalie Lategan, Stephnie van Zyl, Anchen van Schalkwyk

Middel vlnr: Elise Steynberg, Suzanne Lategan, Lize de Jager, Karen van Rensburg, Heidi Lombard

Voor: Elna van Niekerk