Sirkel:  Weskus

Tak: Moorreesburg

Beriggewer:  Martelize Britz

Datum: 2 November 2016

 

Dit is alweer die einde van die VLV jaar en soos gewoonlik het Moorrreesburg dit in styl gedoen. Die mooi gedekte tafels en versierings het Kersfees uitgeroep en die sprekers het hierby aangesluit.  Carine Strydom het die skriflesing gedoen en sy het vir die dames die rol van Maria in die lewe van Christus uitgewys.

 

Die sprekers was Hurita Visser en Denise Bester.  Hurita het ‘n slaai demonstrasie kom lewer wat geskik is vir die Kersseisoen.  Op slaaiblare het sy gebraaide botterskorsieblokkies gesit en daarop gebraaide stukkies spek.  Daarna is hopies guacamole bo-op geplaas en ten laaste is die heuning en mosterd slaaisous oorgestippel.  ‘n Heerlike, maklike slaai.  Verder het sy ‘n inmaakslaai verduidelik en die resep gedeel.

 

Denise Bester was volgende en sy het eerstens verduidelik hoe om met kaneel, appelmoes en gom ‘n kersversiering te maak.  Sy het ook verduidelik hoe om soutdeeg te maak vir allerhande versierings.  Verder het sy gewys hoe om met gewone koeldrankstrooitjies pragtige sterre te maak om in bv bome te hang.

 

Hierna het sy vir die dames die simboliek van die Adventkerse verduidelik, bv. dat die kerse die 4 Sondae voor Kersfees aangesteek word en dat elkeen ‘n waarde verteenwoordig soos Verwagting, Verkondiging, Vreugde en  Liefde. Die krans is die simbool van oneindige liefde Sy het ook gewys hoe om verskillende kranse te maak, van tradisioneel tot minder tradisioneel.

Toe was dit geleentheid vir die prysuitdeling en hierna het almal tee en verversings geniet.  ‘n Baie lekker en interessante vergadering wat almal in die regte luim vir die vakansie seisoen geplaas het.

 

moorreesburg-2

Denise Bester besig met haar demonstrasie.

 

moorreesburg-1

Die lede luister aandagtig.