Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Openbare Sake

Datum: 25 Oktober 2016

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Fotograaf: Cecile Jonkheid(Voorsitter Kleinmond)

 

Alhoewel Kleinmond ‘n rustige vakansiedorp skyn te wees, steek misdaad ook hier sy kop uit. Daarom was die praatjie van Chris de Vos van die plaaslike veiligheidsmaatskappy, Sandown Bay Security, vir die VLV-lede en gaste tydens die Openbare Sake-vergadering, ‘n wekroep om paraat te wees. De Vos het interessante statistiek gebruik om te illustreer hoe die misdaadkurwe op die dorp vertoon: gewone inbrake neem af gedurende die vakansieseisoen wanneer meer huise bewoon word, maar die tendens is dat geleentheidsmisdade soos diefstal uit voertuie of helder oordag uit huise wat oopstaan, geweldig toeneem.

kleinm-1

Chris de Vos saam met Marita Grobler, saamroeper vir Openbare Sake.

 

Alarms word nie konsekwent gestel nie en besittings word argeloos buite gelos. Selfs leë kartondose wat vir die vullislorrie uitgesit word, is vir die misdadiger wat jou huis dophou, ‘n goeie aanduiding van nuwe aankope! Die dae dat iemand van honger gesteel het, is verby. Nou het steel ‘n bedryf geword. Daar is ‘n afsetgebied vir gesteelde goed, dis ‘n inkomste vir die skelm wat nie wil werk nie. Hulle sal selfs nadat ‘n alarm afgegaan het, daardie paar minute reaksietyd tot die sekuriteitsmaatskappy opdaag, gebruik om nog goed te steel. Tong-in-die-kies het De Vos die voordele van ‘n kleiner, plaaslike maatskappy uitgelig, wat al weet hoe is die “locals” se slaapgewoontes en wie vergeet dat die alarm aan is!

 

Hy het weer beklemtoon watter gevare skuil by OTM’s. Hou jou bank se nommer op jou selfoon, want as jou kaart ingesluk word, kan daardie OTM nie oopgemaak word om dit te kry nie. Teen die tyd wat jy uiteindelik by die bank uitkom om dit te rapporteer, is jou rekening leeggetrek. Bel dadelik die bank en kanselleer die kaart. Moenie hulp van enigeen aanvaar om die kaart te kry nie. Moet veral nie jou nommer vir enigeen gee nie.

 

kleinm-2

Marie le Grange (regs) en Marie Thomas (middel) van die Gesondheid-portefeulje steek vir Hendrien Davie ‘n pienk strikkie aan ter bewusmaking van Oktober as Borskankermaand.

 

kleinm-3

 

 

 

 

 

 

 

Hermien van Zyl, saamroeper vir Landbou&Tuinbou oorhandig ‘n geskenkpakkie van 6 verskillende kruie aan elkeen van die tak se saamroepers om sirkel Overberg se groentetuintjie-projek af te skop.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

kleinm-4

 

 

 

 

 

 

Hermien Fÿfer, 92-jarige erelid van Kleinmondtak is onlangs oorlede, en Susan Marais het ‘n huldeblyk aan haar gelewer. Hierdie foto is geneem met Hermien se 90ste verjaarsdag. Sy het in haar leeftyd as korrespondent van Die Burger en Huis&Haard, duisende berigte oor VLV laat plaas. Sy het diep spore in die Overberg getrap as voorsitter van die Greyton- en later Grabouwtak vòòr hulle op Kleinmond kom aftree het. Hier het sy 13 takalbums nagelaat waarin sy Kleinmond-VLV gedokumenteer het. Ons eer die nagedagtenis van iemand wat vir 70 jaar haar beste vir VLV gegee het.