Sirkel: Worcester

Tak: Maria Stofberg

Portefeulje: Gesondheid

Datum: 13 Oktober 2016

Verslaggewer: Alta Britz

 

Misbruik van alkohol is ‘n groot probleem in Suid-Afrika. Daarmee saam, is daar in Suid-Afrika ‘n abnormale hoë voorkoms van babas wat gebore word met fetale alkoholsindroom, veral in die Wes-Kaap. Hierdie kinders word gebore met spesifieke agterstande wat hulle sal laat sukkel vir die res van hulle lewe. Francois Grobbelaar, Hoof Uitvoerende beampte van FASfact (Fetale alkohol sindroom feite),  Worcester, kom vertel ons meer  van hierdie probleem.

Die enigste manier hoe ‘n kind met FAS gebore kan word is wanneer die ma alkohol drink terwyl sy swanger is. As ‘n swanger vrou alkohol drink, vloei al die alkohol deur haar bloedstroom.  Die alkohol word deur die plasenta ge-absorbeer wat dit dan weer deur die naelstring na die fetus neem. Alkohol is giftig vir die ongebore baba. Die ergste skade wat alkohol  veroorsaak tydens swangerskap is permanente breinskade. Die gedrags en leer probleme wat ontstaan by persone wat voor hulle geboorte,  blootgestel is aan alkohol tydens swangerskap is: hul is baie impulsief; volg ander se verkeerde gedrag; is vroeg seksueel aktief, raak betrokke by bendes en kan nie tussen reg en verkeerd onderskei nie.

  • Agt miljoen mense in ons land moet leef met breinletsels omdat hul ma’s gedrink het terwyl hul swanger was;
  • Drie miljoen het volledige skade, oftewel fetale alkohol sindroom;
  • Ses miljoen het alkohol verwante geboorte- en/of ontwikkelingsafwykings
  • Daar kom elke jaar 25 000 nuwe babas by met breinletsels weens alkohol.

35 Vroue (mentors) is opgelei om in woonbuurte, soms plakkerskampe, swanger meisies tydens swangerskappe en borsvoeding by te staan om nie alkohol te gebruik nie. Tydens 2016 se jaarvergadering is 120 sertifikate aan meisies (meestal skooldogters) wat voorheen alkohol gebruik het, en wat geen alkohol tydens hul swangerskap en borsvoeding gebruik het nie, oorhandig.  Die dogters word aangemoedig om weer na die skool terug te keer. Hul word ook gehelp om na rehabilitasie sentrums te gaan.

 

mstofb-2

Francois Grobbelaar en Debbie Erasmus (Gemeenskapswerker) en Nellie Crafford, Sameroeper van Gesondheid.

 

Ses lede van die Worcester Aandtak besoek ons tak.  Dit is goed om mekaar beter te leer ken. Ons neem afskeid van Senerita van der Walt wat na De Kelders verhuis.  Sy was die laaste 20 jaar voorsitter van die Aandtak.

 

mstofb-1

Hettie Stander en  Senerita van der Walt, voorsitters van Maria

Stofberg tak en  Worcester Aandtak,  Elize Lotriet en Alta Britz,

sekretaresses van die Aandtak en Maria Stofberg tak.