Sirkel: Weskus

Tak: Moorreesburg

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer:  Martelize Britz

Datum: 12 Oktober 2016

 

Die dames het op ‘n sonskyndag, vroegoggend uit Moorreesburg vertrek met die bus na die Paarl.  Op die bus het die voorsitter, Denis Bester, die lede en die gaste hartlik welkom geheet.  Dorothy Visser het die skriflesing behartig uit Ps 91 v 9-11.  Hierna het Jolize van der Westhuizen die verjaardagmense van Oktober gelukgewens.  Daar was vir elkeen ‘n kospakkie en ‘n bottel water op die bus.

 

Terwyl ons oppad was, het Christi Bester vertel van Lebombo Cape Packaging wat besoek gaan word.  Hulle doen die verpakking en verspreiding van veral piesangs, maar ook ander vrugte en groente van Woolworths.

 

moorrees-2

Cleo Jacobs besig om te verduidelik.

 

Met ons aankoms by Lebombo, net buite die Paarl, het die gids, Cleo Jacobs, kwaliteitsbestuurder van Lebombo by die lede aangesluit.  Sy het die dames op ‘n besigtigingstoer geneem van waar die vrugte ontvang, verwerk, verkoel en eindelik verpak word.  Sy het gewys waar die groente verwerk word asook die indrukwekkende kweekhuis waar die slaai op hidroponiese wyse verbou word.

 

moorrees-1

Werknemer by hidroponiese slaaikoppe.

 

Die dames kon ook gaan kyk waar die rooipepers groei en het geleer dat die plant baie hoog opgelei word, deur natuurlike pesvangers beskerm word en vir 8 maande geoes kan word.

 

Dit was ‘n baie interessante besoek en laat ‘n mens besef hoekom die vrugte en groente van Woolworths so duur is!

 

 

moorrees1

Anna Slabber en ‘n werknemer by die soetrissies.

 

Hierna is die bus na die Spice Route vir middagete waar almal kon rondloop soos dit hulle pas en almal moes net weer op ‘n sekere tyd by die bus wees.  Almal het heerlik geëet, sjokolade geproe en kleinighede gekoop, ‘n ware inkopie paradys.

 

Ten spyte van ‘n pap wiel oppad huis toe, was dit ‘n heerlike dag wat lank onthou sal word.