Sirkel: Tygerberg
Tak: Brackenfell
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Lettie Van Wyk
Datum: 13 Oktober 2016
Brackenfell lede het die Rusoord Tehuis vir Dowes in Bellville gaan trakteer met eetgoedjies. Elkeen van die lede wat teenwoordig was, het opnuut besef hoe moeilik dit is om nie te kan hoor nie. Jy sit in jou eie kokonnetjie en daar is geen kontak na buite nie. Die meeste van die inwoners kry maar net ‘n staatspensioen, maar is gelukkig en tevrede, want hulle is tussen ander wat net soos hulle is, en op hulle unieke manier kommunikeer hulle lustig met mekaar waar hulle in die sitkamer sit. Op ‘n ander plek sou hulle totaal vereensaam het.
Inwoners in die sitkamer
Hulle was baie opgewonde om ons te sien. Een van die inwoners, Dirkie, het met sy kitaar nadergestaan en vir ons ‘n paar liedjies gesing. Dirkie is multigestremd en woon saam met sy moeder in die tehuis.
Dirkie met sy kitaar.
Nog ‘n ander inwoner sit heeldag en bou met sy lego-blokkies. Dit verskaf hom oneindige genot.
Mnr. Jeanne van Eyssen, die bestuurder, het ons rondgeneem. Hy het ook vir ons 2 bome gewys wat aangeplant is met ‘n skenking wat Brackenfell ‘n paar jaar gelede gemaak het.
Die bome wat Brackenfell by ‘n vorige geleentheid aan die tehuis geskenk het.
Ons het ook die siekeboeg, waar terminale pasiente versorg word deur toegewyde versorgers, besoek.
Die siekeboeg
Die inwoners vermaak maar hulleself, alhoewel hulle nie daarvan hou om speletjies te speel nie. Hulle geniet dit om uitgeneem te word op uitstappies see toe, waar hulle soms piekniek hou. Hulle het ook al die Waterfront en Houtbaai besoek en word gereeld na Tygervallei winkelsentrum geneem. Daar is omtrent 43 inwoners en daar moet fyn beplan word wie op ‘n uitstappie geneem sal word, omdat die bussie net ‘n beperkte aantal sitplekke het. Daar moet ook genoeg versorgers saamgaan om te help waar nodig.
Een van die inwoners, Magda, het ons bedank dat ons hulle besoek het en mnr. van Eyssen moes tolk sodat ons kon verstaan.
Magda bedank die VLV dames.
Watter wonderlike, verrykende ervaring was dit nie vir Brackenfell nie!
Leave A Comment