Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 12 Oktober 2016

 

Die mooiste maand van Oktober is verjaarsdagmaand vir die Acqua’s. Acqua is 32 jaar gelede in die lewe geroep. In VLV-geledere word elke bestaansjaar met trots bygereken en daar is fees gevier.

 

32 jaar gelede was daar ‘n baie amptelike verwelkoming by die 1ste vergadering van die toe pas gestigte nuwe tak. 32 jaar later was die verwelkoming minder amptelik en ernstig, MAAR ewe hartlik. Elkeen wat haar voete oor die drumpel lvan PEGC laat kom het vir Acqua se 32ste verjaarsdag, is met ‘n glimlag en diepe genoegdoening verwelkom.

 

Die Acqualede reken dis lekker om deel te wees van ‘n wenspan. Lekker om deel te wees van ‘n netwerk van uitnemende kontakte en ‘n vriendekring gevul met knap, deugsame en UITERS dinamiese vroue.

 

Daar is ‘n glasie gelig op ACQUA – die VA-VA-Voom tak. Die glasie is ook gelig op almal wat die huidige ledetal vooruitgegaan het, diegene wat die weg gebaan het in VLV, en spesifiek vir Acqua, en wat vandag nog steeds lede van die tak is.

 

img-20161013-wa0004  img-20161013-wa0003  img-20161013-wa0000

 

Die Liedjieboer sing van ‘n klein bietjie wyn, maar die Kwa-Kwa’s, anders as ou Anna in Anton se liedjie, sou nie trôlskuite ry of mooi boude kry met ‘n klein bietjie wyn nie. Acqualede het die verjaarsdagfees gebruik om meer te leer oor watter wyn by watter kossoort pas. Ronelle Wright van Le Barrique, www.lebarrique.co.za,  is ‘n kundige wat die lede se wynopvoeding in die hand geneem het.

 

img-20161013-wa0002   img-20161013-wa0001

 

Die aand is met vonkelwyn begin en met ‘n soet Muskadel afgesluit. Tussen-in was daar ‘n vrugtige Chenin Blanc, die perfekte pasmaat vir ‘n visgereg. ‘n Chardonnay was die perfekte wyn by ‘n romerige hoendergereg. Shiraz en Pinotage was uitstaande pasmaats by beesfrikkadelle en wildspastei onderskeidelik. Shiraz is ‘n veelsydige rooi wyn met uitstaande kenmerke van peper, speserye en rokerigheid. By Pinotage staan framboos die meeste van die tyd uit saam met soetbessies en naeltjies. Pinotage is ‘n druifsoort wat in Suid-Afrika gekweek is.

 

Nagereg was sjokolademousse met neut in donker sjokolademandjies, perfek vir ‘n Muskadel. Hanepootdruiwe word hoofsaaklik vir gefortifiseerde soetwyne soos Muskadel en Jeripiko gebruik.

 

Die geskiedenis van vonkelwyn in die Champagne gebied van Frankryk is in die 17de eeu begin deur Dom Perignon, ‘n monnik en keldermeester. Dom het die kuns bemeester om vonkel in die wyn te behou. Hy was ook die eerste persoon om ‘n kurkprop te gebruik.

 

Die verskil tussen Cap Classique (die Suid-Afrikaanse term vir methode champenoise) vonkelwyn en gewone vonkelwyn is dat eersgenoemde in die bottel gegis word en nie in die wyntenk nie.

 

Acqualede het ‘n feestelike verjaarsdag geniet. Die proppe het geskiet, maar dit was nie die enigste rede vir die aand se feestelikheid nie. Daar is gelag en gesels, gekuier en met oorgawe geniet. Selfs Kwakkie het haar oorgegee aan die lawwigheid. Volgende jaar maak Acqua weer so!

img-20161013-wa0005