Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Datum: 27 September 2016

Beriggewers: Hermien Van Zyl & Alice Van Rooyen

Fotograwe: Alice Van Rooyen & Cecile Jonkheid

 

Die Harold Porter-natuurtuin wat tussen Kleinmond en Bettysbaai geleë is, was in Mei 2016 die tema van die Suid-Afrikaanse uitstalling by die wêreldbekende blommeskou in Chelsea, London. Tydens die Landbou&Tuinbou-vergadering het Berenice Carolus, die kurator, bygestaan deur Delicia Appel vir die lede en gaste van VLV-Kleinmond kom vertel van diè ikoniese gebeurtenis waar Suid-Afrika met hulle uitbeelding van die Kogelberg-Biosfeer, ‘n 34ste goue medalje ingepalm het. Die personeel van Harold Porter was behulpsaam met die pluk van die blomme wat London toe gevlieg is vir hierdie blommeskou waaraan sowat 500 kompeteerders deelneem en buitelanders hulle blomme van hulle lande van herkoms bring.

 

overb-1

Nelie Ungerer (middel) oorhandig VLV-gedenkblikkies met beskuit en fudge aan die sprekers Delicia Appel (links) en Berenice Carolus (regs).

 

Nagenoeg 157,000 besoekers stroom vir 5 dae deur die hekke van die terrein van die Chelsea-hospitaal, ‘n aftree-oord vir sowat 300 Britse soldate waar die Royal Horticultural Society jaarliks sedert 1913 hierdie blommeskou aanbied. Vanjaar was daar ook ‘n baie interessante uitstalling van duisende rooi gehekelde papawers, die simbool wat wêreldwyd gebruik word om aan veterane van die wêreldoorloë hulde te bring.

 

Septembermaand is ook verkiesingsmaand en met die bedanking van Ninnie du Toit, die takvoorsitter vir 22 jaar, is Cecile Jonkheid as nuwe takvoorsitter verkies. Ruanda de Clerk is die nuwe sekretaresse en die ervare Brenda Neethling die nuwe hulp-sekretaresse. Ander bestuurslede wat verkies en herkies is, is Johanna Groenewald (Kunste & Handvlyt), Hermien van Zyl (Landbou & Tuinbou), Marita Grobler (Openbare Sake), Lisbè Badenhorst(Gesondheid) en Louise Bruwer (Opvoeding & Kultuur). Annie Jooste bly vise-voorsitter en saamroeper vir Leefstyl en Christine Lambrechts die tesourier.

 

overb-2

Ruanda de Clerk (sekretaresse), Cecile Jonkheid (voorsitter) en Brenda Neethling (hulp-sekretaresse) neem die leisels vir die volgende termyn by VLV-Kleinmond.

 

Boomplantmaand is gepas afgesluit met die oorhandiging van drie Carissa Bispinosa (Noem-noem)-struike aan Venda de Jager van die plaaslike biblioteek. Hierdie instansie is onlangs omvattend uitgebrei en opgeknap en die terrein word tans verfraai. Proteaplante is ook oorhandig aan Rienie Ludick (sirkelpresident), Annatjie Liebenberg (sirkelsekretaresse) en Corrie Fourie (vise-sirkelpresident) wat kom takbesoek doen het.

 

Rienie Ludick het die taklede bedank vir hulle aandeel daaraan dat die sirkel tydens die pasafgelope VLVK-Kongres die Rina Kotze/MC Truter-trofee vir sirkelprestasie kon verower en die lede daaraan herinner dat “elke VLV-lid sal onthou dat haar optrede in die openbaar aan haar Vereniging gekoppel word.”

 

overb-3

 

 

 

Essie Groenewald (links) het die opening waargeneem en dit treffend gedoen aan die hand van Ps 8. Susan Marais is hier saam met haar.

 

overb-4

 

 

 

 

 

 

 

Sirkelpresident, Rienie Ludick (links) en Annatjie Liebenberg (sirkelsekretaresse) het die middag saam met die Kleinmondlede baie geniet.