Tak:  Murraysburg

Sirkel:  Noord-Karoo

Portefeulje:  Landbou En Tuinbou

Datum:  21 September 2016

Beriggewer:  Theresa Troskie

 

Die Landbou en Tuinbou-vergadering is deur Elana Grobler aangebied.  Vir ’n ysbreker, laat Elana lede staan, voete stewig geplant.  Beweeg dan jou uitgestrekte arm van voor na agter sover as jy kan.  As jou gedagtes verder gegaan het as wat jou arm kon beweeg, is dit ’n aanduiding dat jy in jou lewe verder gaan as net die punt wat jy kan sien.  Die dinge wat in jou lewe gebeur, moet jou nie laat afsien van die doel in jou lewe nie.  Jy moet  daarby verbybeweeg.

 

 

Elana stel die lewenslustige, vrolike Denise Minnaar as spreker voor.  Sy konsentreer op die veranderinge wat in die lente in die natuur plaasvind en vergelyk dit dan met ons vroue se lewens.  Lente is bloeisels, nuwe lewe, klein lammertjies, eendjies na die koue winter.  Begin ons ook ’n nuwe lewe soos die natuur?

 

In die lentetyd moet jy al die ongeluk en teenspoed in jou lewe wegsnoei soos jy jou roosbosse snoei.  Sny terug, snoei weg.  Snoei terug tot by ’n groeipunt, anders groei jy nie. Ons as mense is net soos plante.  Jy kan nie al jou  foute vir jare saamdra nie.  Neem beheer van jou lewe en wees die pragtige, sterk vrou wat God bedoel het jy moet wees en blom daar waar jy geplant is!

 

Aan die hand van ’n blitsflitsvertoning stel Denise die dames voor aan splinternuwe tuinidees.

  • Maak groentetuin in houtkiste wat om die huis op warm plekke geplaas word. Die kiste kan ook op plaveisel voor kamervensters geplaas word om ’n mooi uitsig te verseker.  Nuttig en mooi!
  • Maak, of laat maak, interessante traliewerk van draad of gegote yster en laat plante daarteen oprank. Dit verskaf ook sommer hoogte op die regte plekke in jou tuin.
  • Groot potte kan ook op hul sye neergesit en beplant word sodat dit lyk asof die pot oorkook met blomme!
  • ’n Ry gieters op die kant van ’n trap met ’n melkemmer onder maak ’n pragtige watervalletjie.
  • ’n Helder geverfde ou boekrak in die tuin kan gebruik word vir kruieplantjies. Verf die plantjies se name op die boekrak en leer jou kinders so die verskillende kruie uitken.
  • Maak ’n raamwerk van ou plankies met vierkante en reghoeke en gebruik dit om ’n sementmengsel daarin te giet vir ’n geplaveide tuinpaadjie.

 

murrays-1

Sprekers by die huishulpedag:  Lina van den Berg, Johanna van der
Merwe, Linda van den Berg en Atatia Botha (ABSA)

 

murrays-2

                                                      Maria  Fielies, die sanger, Trompie en Priscilla Fielies.

murrays-3

Die gaste lê weg aan die heerlike eetgoed en demonstrasiegeregte.