Sirkel: SWD

Tak:  Voëlvlei

Studierigting:  Leefstyl

Beriggewer:  Elize Locke

Datum:  20 September 2016

 

Demonstrasiedag is beslis ‘n hoogtepunt op die VLV kalender vir die dames van Voëlvlei.  Elmarie Engelbrecht gee vooraf opdrag dat elkeen ‘n blokkie moet brei van 15cm x 15cm.  Dit was nogals ‘n uitdaging vir sommiges as daar na die boodskappe op die Whattsup groep gekyk word! Waarvoor is die blokkie? Watter grootte breipenne? Dikte van die wol? Hoeveel steke, ens, ens.

 

voelvl-6

Rena Gibbons, Yvonne Meyer, Gerda Muller, Isabel van Rensburg

 

Uiteindelik is dit tyd vir Elmarie om aan ons te demonstreer hoe om ‘n speelgoed hasie van die gebreide vierkant te maak.  Ryg die blokkie van die middelpunt bo tot die middelpunt van die sykant.  Trek die draad styf in, stop die bolletjie op, knoop die wol en siedaar!!! …, ‘n kop en ore!  Werk nou die 2 oop kante vanaf die kop tot onder toe.  Nou word die onderkant geryg en weereens toegetrek, opgestop en afgewerk om die lyfie te vorm.  Werk ‘n pompom op sy agterstewe, ogies en ‘n neusie op die gesiggie en jy het in ‘n japtrap ‘n geskenkie vir ‘n kleintjie.

 

voelvl-0

‘n Groepie vrolike hasies

 

Volgende is dit Linzetta Smit se beurt om te wys hoe jy nuwe lewe aan ‘n ou hemp kan gee. Die eerste hemp word ‘n kussing vir jou bank in die TV kamer met ‘n plekkie vir dieTV se afstandbeheer in die hemp se sak! Die tweede hemp word geknip, gestik en versier om ‘n rokkie vir ‘n klein dogtertjie te maak. Die derde hemp word ‘n voorskoot!  Nou is dit beslis nie meer nodig om ‘n hemp met ‘n oliekol of winkelhaak weg te gooi nie.

 

voelvl-1

 

 

voelvl-2

Kussing met sak vir die Afstandbeheer gemaak van ou hemde.

Elize Locke met die voorskoot gemaak van ‘n ou hemp.

 

 

 

 

Rika de Villiers maak vir ons appeltertjies.  Sy skil en sny appels in die dunste skyfies en kook dit ‘n klein rukkie sodat die appelskyfie meer hanteerbaar is.  Daarna rol sy deeg uit en sny dit in lang stroke.  Pak die appelskyfies daarop, rol dit versigtig op en plaas die appelrosette in ‘n kolwyntjiepannetjie om gebak te word.  Wanneer die appeltertjies uit die oond kom gooi sy ‘n suikerstropie daaroor.  Pragtig en heerlik!

 

 

voelvl-3           Klaar gebakte appeltertjies

 

Johlene Muller demonstreer ‘n spiraalkoek aan die dames.  Wie het nou kon dink dat ‘n sjokolade konfytrol so maklik in ‘n spogkoek omtower kan word.  Johlene het ‘n rolkoek in ‘n bierboks gebak en soos normaal opgerol in ‘n klam lap.  Daarna is die rol in 4 ewegroot dele gesny.  Sy maak ‘n vulsel van styfgeklopte room en karamel en rol die dele versigtig oop en smeer met vulsel.  Dan word ‘n spiral versigtig gevorm en met kleefplastiek om die koek gedraai, bêre sy hom oornag in die yskas sodat dit in posisie kan bly.  Die volgende dag word die koek buiteom versier om die verrassing weg te steek.  Wanneer die koek in skywe gesny word, word vertikale lagies pragtig vertoon.

 

voelvl-4                                              voelvl-5

Versierde Spiraalkoek                                                                       Johlene Muller met ‘n skyfie van die spiraalkoek

 

Elize Pienaar lees daarna die alleenspraak van Alta Landman getiteld: “Die liewe bordjie eetgoed” voor.

 

Gelukkig het teetyd gou aangebreek sodat almal kon proe aan die gebak wat gedemonstreer is.