Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 16 September 2016

 

 

Tydens Hantam VLV se Openbare Sake vergadering, kon lede ‘n persoonlike en in-diepte kykie kry, van wat dit behels om ‘n Parlementslid én ‘n Invorderingsklerk te wees…albei beroepe wat dalk bekend klink, maar waarvan die gewone man op straat, nie regtig veel weet nie.

 

Tydens haar termyn as Parlementslid, het dr Ena van Schalkwyk baie waardevolle ervaring opgedoen en met velerlei uitdagings te doen gehad.  Volgens haar, besoek lede van die publiek, veral skoolgroepe en toeriste, die Parlement gereeld.  Die omgewing is skilderagtig mooi, met Tafelberg in die agtergrond en die Tuine wat aan die parlementêre terrein grens.  Die ouer geboue het ‘n ryk geskiedenis, verbonde aan die geskiedenis van ons land tot waar ons nou is.

 

Die belangrikste werksaamhede van die LP’s, word in ongeveer 34 portefeuljekomitees gedoen, waar die grondwerk vir wette en oorsig oor staatsentiteite plaasvind.  Omdat die groepies kleiner is, heers daar gewoonlik beter verhoudings tussen die verskillende partye en kan konstruktief saamgewerk word.

 

Die volle sittings is gewoonlik dié wat op die TV gebeeldsend word.  Daar vind debatte oor relevante gebeure plaas, wetsontwerpe word gefynkam, mosies ter tafel gelê, vrae aan die uitvoerende gesag gevra, ledeverklarings gemaak, ens.  Die waardigheid (dekorum) van die parlement as instelling, moet te alle tye gehandhaaf word, daarom word parlementslede as agbare lede aangespreek, huisreëls streng nagekom en punte van orde gestel.

 

Om wette te maak, is ‘n LP se vernaamste taak.  Konsep-wetsontwerpe word in die portefeuljekomitees verfyn.  Daarna word dit in die Nasionale Vergadering gedabatteer en dan na die Nasionale Raad van Provinsies verwys vir goedkeuring en uiteindelik na die president gestuur vir ondertekening. Omtrent ’n groot verantwoordelikheid!  Mag ons maar net hoop dat die waardigheid en gelóófwaardigheid van ons parlement altyd ‘n instelling bly…

 

Dit is nooit lekker om ‘n amptelike aanmaning te ontvang as jy versuim het om ‘n rekening te betaal nie.  Maar as daar nie iemand was wat hierdie ongewilde werk gedoen het nie, sou skuldeisers seker nooit finansiëel oorleef het nie.   Ilse Symington is alreeds 18 jaar werksaam as Invorderingsklerk in die praktyk van Groenewald en Symington Prokureurs.  Sy erken self dat dit nie aldag maklik is nie, maar gelukkig put sy bevrediging daaruit wanneer ‘n skuldenaar skuld erken en gereelde betalings doen.  Die proses van skuldinvordering is ‘n baie deeglike, maar dog interessante proses:  Ten eerste word ‘n opdrag ontvang, waarvoor ‘n fooi gehef word.  ‘n Geregistreerde Aanmaningsbrief word opgestel en gepos en 10 besigheidsdae word gegee om reaksie te ontvang.  Dan volg ‘n Dagvaarding wat opgestel word en by die Klerk van die Hof uitgereik moet word met ‘n Saaknommer.  Die uitgereikte Dagvaarding word dan aan die Balju oorhandig om te beteken op die fisiese adres van die Verweerder.  Wanneer betekening geskied het en die relaas terug ontvang is van die Balju, word ‘n verdere 10 besigheidsdae grasie gegee om betalings te ontvang of ‘n afbetalings reëling in plek te kry.  By versuim daarvan word voortgegaan met die Verstek Vonnis.  Dit beteken Vonnis word geneem teen die skuldenaar en om weer sy naam skoon te kry. By die Kredietburo moet ‘n Tersydestelling van Vonnis gedoen word, wanneer skulde skoon is.

 

Hierna word ‘n Vonnisbrief per geregistreerde pos uitgestuur wat die Verweerder kennis gee dat daar wel Vonnis teen hom/haar geneem is.  Die volgende stap is ‘n hofverskyning met Artikel 65 verrigtinge – ‘n finansiële ondersoek word gedoen, waar slegs die Landdros, die Prokureur en die skuldenaar in ‘n kamer saam is.  Die persoon se inkomste en uitgawes word deurgewerk om te bepaal hoeveel die bevel kan wees wat per maand betaal moet word.  ‘n Besoldigingsbeslagbevel kan gemaak word as die persoon ‘n vaste werk het, wat dan die Werkgewer opdrag gee om ‘n bedrag per maand af te trek van die salaris en oorbetaling geskied aan die Prokureurskantoor, wat weer die bedrag teen die skulde afsit.  Indien ‘n persoon nie die hof bywoon nie, word ‘n Lasbrief vir arrestasie gemagtig, wat dan weer op die persoon beteken word.  ‘n Lasbrief vir eksekusie kan ook opgestel word, wat beteken daar word beslag gelê op die skuldenaar se bates.  ‘n Verdere lasbrief kan ook opgestel word, nadat hierdie stappe gedoen is, wat weer op die skuldenaar se eiendom van toepassing is.  Gewoonlik poog die Prokureurs egter eers om met al die vorige stappe die skuldenaar sover te kry om betalings te maak.  Laat dit vir elkeen ‘n waarskuwing wees, om eerder op datum te bly!

hantamKirsten Fourie, saamroeper van die vergadering, saam met dr Ena van Schalkwyk, vorige parlementslid, Janine Brynard, saamroeper en Ilse Symington, Invorderingsklerk van Calvinia.  Lede kon ‘n in-diepte kykie kry van ‘n dag in die lewe van hierdie twee dames.