Sirkel:  Weskus

Tak:  Moorreesburg

Beriggewer:  Martelize Britz

Datum: 14 September 2016

 

Die vergadering is geopen met skriflesing en gebed deur Hurita Visser.  Sy het gepraat oor die verhaal van sout in die Bybel en dat jy jou gewig in sout werd moet wees.

 

Daarna was daar ‘n item deur 4 Dirkie Uys Laerskoolleerders wat gepresteer het by die Eistedfod.  Hulle het hul gedigte kom voordra.

 

Tannie Evelyn Dippenaar het ‘n lysie van wenke vir ‘n gelukkige huwelik gegee wat stof tot nadenke was.

 

Die Bestuur self was verantwoordelik vir die vergadering en Martie du Plooy het begin deur vir die dames te wys hoe ‘n sg. feetjietuin lyk asook hoe om dit te bou.  Sy het verder vertel van die uitstappie na die Paarl wat beplan word vir 12 Oktober 2016.

moorreesburg-2

Martie du Plooy se feetjietuin.

 

Na haar was dit Anna Slabber wat kom vertel het van die gevare van suiker.  Dit veroorsaak dat jy nie weet wanneer om op te hou eet nie, dit kan kanker veroorsaak of aanhelp, dit verswak jou immuniteit, laat vetsug drasties toeneem, is hoogs veslawend, het geen voedingswaarde, is sleg vir jou tande, beskadig jou hart en versnel veroudering.  Sowaar iets om te beperk in ons dieet!

 

moorreesburg

Anna Slabber aan die woord.

 

Hierna was Denise Bester en Suretha Fourie aan die woord.  Hulle het meer kom vertel van krytverf.  Hulle verduidelik hoe jy dit self kan maak en hoe om dit te behandel na jy geverf het.  Dit kan op enige oppervlak gebruik word, dit het geen verfreuk nie en lyk pragtig.  Terwyl Denise gepraat het, het Suretha ‘n tafeltjie kant en klaar geverf.

 

moorreesburg-3

Die lootjiewenner was Tannie Ina van Dyk wat ‘n pragkoek kon huis toe neem.

 

Dit was ‘n ware potpourri en leersame vergadering met heerlike tee en verversings.