Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Landbou & Tuinbou en Openbare Sake

Beriggewer: Hettie du Plessis

Datum: 14 September 2016

 

Die VLV Kuruman-tak het op Woensdag 14 September 2016 hul 83ste verjaarsdag gevier! Hierdie spesiale vergadering is aangebied deur die Landbou & Tuinbou-groep, onder leiding van Sameroeper, Ansie Cilliers. Dames het volgens ‘n lente-tema aangetrek vir hierdie feestelike okkasie. VLV Kuruman verwelkom ook nuwe lede wat tydens hierdie vergadering aangesluit het: Karin van der Walt, Jana Hugo, Veronia Corbett en Gonda Louw.

 

kurumdsc_0056

Die Landbou & Tuinbou-groep, vlnr: Karin van der Walt, Franciska Einkamerer, Ansie Cilliers (Sameroeper), Magdaleen de Klerk, Amelia Viljoen, Eileen Menge, Sophie Smith en Carla Salim.

 

Franciska Einkamerer het heel gepas die geleentheid geopen met Matteus 7:17 en 18 oor die boom wat aan sy vrugte geken word. Aan die hand van David Livingstone se lewe en die goeie vrugte wat hy met sy lewe gedra het, het sy die dames aangemoedig om ook goeie vrugte te dra.

 

kurumdsc_0018

Tersia Grobler, Sirkel Kalahari President, het ‘n groete boodskap namens Sirkel Kalahari aan die tak oorgedra om hul geluk te wens met hul 83ste verjaarsdag. Sy beskryf VLV Kuruman-tak as ‘n karaktervolle tak met ‘n ryk geskiedenis. Dié tak het reeds vier sirkelpresidente opgelewer, waarvan sy een is. In Sirkel Kalahari is Kuruman-tak een van die grootste takke en was ook in 2015 die sirkel se ster-tak. Sirkel Kalahari is egter die derde kleinste sirkel in VLVK (Vroue Landbou Vereniging van Kaapland) en vir Kuruman-tak om algeheel tweede te kom in Leefstyl en Handvlyt gekombineer tydens die nasionale kongres in Port Elizabeth vroeër vanjaar, is beslis ‘n uitsonderlike prestasie. VLV Kuruman-tak is ‘n plek waar elke vrou, van 10 tot 102-jarige ouderdom haar passie kan uitleef.

 

kurumdsc_0038

Gonda Louw (links), Streekskoördineerder van die burgerregtegroep, Afriforum, is aangewys as VLV Kuruman se Vrou van die Maand vir haar betrokkenheid in die gemeenskap en veral ook by die plaaslike buurtwag. Toe Afriforum Kuruman se buurtwag in 2015 oorgeneem het, was daar slegs 30 lede. Tans behoort 513 persone aan Kuruman se buurtwag! Afriforum Kuruman het 680 lede. In September verlede jaar het Afriforum 1000 slaggate in Kuruman reggemaak en verskeie straatligte vervang. Ansie Cilliers het die sertifikaat aan haar oorhandig.

 

kurumdsc_0039

Dr Vossie Vorster is aangewys as VLV Kuruman se Man van die Maand, vir sy bereidwilligheid om na-ure in ‘n krisis te help en om ondanks sy besige skedule self ook patrollie te ry vir die buurtwag. Sy vrou, Marianne Vorster (regs) het dit namens hom ontvang. Sy is ook tydens die vergadering weer verkies as Voorsitter van VLV Kuruman.

 

Op Vrydag 14 Oktober 2016 gaan VLV Kuruman deelneem aan die internasionale beweging, Women Walk the World en op Woensdag 19 Oktober 2016 is die volgende vergadering, aangebied deur die Gesondheid-groep.  kurumdsc_0052

Lea Shuda (Gemeenskapsdiensveearts) wat oor beheerde siektes gepraat het saam met Franciska Einkamerer wat met skriflesing en gebed geopen het.

 

Lea Shuda het die dames vertel van drie beheerde siektes wat sy in die Kuruman-omgewing teëkom. Die een is hondsdolheid onder honde en meerkaaie, die tweede een is New Castle siekte onder hoenders en veral duiwe en derde is brucellosis onder beeste.

 

Bees-brucellosis, of besmetlike misgeboorte, soos die siekte algemeen bekend staan, is ‘n bakteriese siekte van beeste wat hoogs aansteeklik is. Die siekte veroorsaak aborsies en onvrugbaarheid. Melkproduksie verlaag en die tussenkalfperiodes vergroot. Alle vroulike diere moet vanaf 4 tot 8 maande geënt word.

 

As ‘n uitbreking plaasvind, moet die volgende gedoen word:
Stel die staatsveearts in kennis wat die koeie op ‘n gereelde basis gratis sal toets.
Plaas die kudde onder kwarantyn sodat die siekte nie verder versprei nie.
Identifiseer elke dier en toets diere elke 2 maande.
Positiewe beeste word met ‘n rooikruispermit na die slagplaas vervoer en geslag.
Vleis kan vir menslike verbruik gebruik word. Slegs die geslagsdele word verwyder.
Verbrand besmette materiaal.
Mense kan besmet word deur besmette melk te drink of in aanraking met besmette materiaal te kom. Die kieme kan ook ingeasem word.

Simptome is lusteloosheid, gewrigs- en spierpyne, hoofpyne en depressie, wissellende hoë koors, sweetaanvalle – kontak u dokter.

 

September is Wêreld Hondsdolheid Maand. Hondsdolheid is ’n breinsiekte wat, soos gesê, deur ’n virus veroorsaak word en deur soogdiere, meestal roofdiere, oorgedra word.

 

In Suid-Afrika is die vernaamste draers, benewens honde, die stokstertmeerkat, rooimeerkat, bakoorjakkals en rooijakkals. Beeste word dikwels besmet, maar dra die siekte nie so maklik aan ander diere of mense oor nie omdat hulle nie roofdiere is nie. Hiënas, vlermuise en natuurlik katte kan ook draers wees.

 

Newcastlesiekte is ‘n hoogs besmetlike virussiekte by pluimvee en sekere voëlsoorte. In hierdie omgewing is dit veral wilde duiwe wat daaronder ly.

Newcastlesiekte kan doeltreffend deur immunisering, goeie bestuur en higiëne beheer word.

 

kurumdsc_0012

Tydens die vergadering is daar ‘n muntlegging vir die Wêreld Bond van Plattelandse Vroue gehou. Hul hoofkantoor is in Londen en die fondse word aangewend vir die administrasie van al die vroue organisasies wat deel vorm van die WBPV.

 

kurumdsc_0043

Dan Leach het veiligheidswenke gegee om kapings te vermy en oor hoe om op te tree wanneer jy wel gekaap word.

 

Om ‘n kaping te vermy:

Ry altyd met jou vensters toe en jou deure gesluit.

Laat installeer ‘n opsporingstelsel in jou voertuig, die meeste van hulle het ook ‘n paniekknoppie.

Verander jou roetes so gereeld as moontlik (iemand hou dalk jou roetine dop).

Wanneer jy agter ’n ander voertuig stop, laat ’n gaping sodat jy kan ontsnap indien nodig.

As ’n vreemdeling na jou voertuig toe aankom, ry so vinnig as moontlik weg of druk jou toeter om aandag te trek.

As jy vermoed dat jy agtervolg word, ry dadelik na die naaste polisiestasie.

Wees altyd paraat, maar wanneer jy ongeveer 2 km van jou huis is, skakel jou radio af en wees ekstra bedag.

Hou jou selfoon byderhand sodat jy iemand kan kontak in geval van nood. Daar is ook toeps, onder andere deur die AA, wat ‘n mens kan gebruik.

Maak seker dat jou oprit skoon is voordat jy by jou erf in- of uitry. Indien daar mense rondstaan in jou oprit, ry eerder verby tot by iemand wat jy ken of die polisiestasie.

Wag reg aan die binnekant van die hek en sit jou voertuig in trurat terwyl die hek agter jou toegaan.

Wees bedag wanneer jou honde jou nie soos gewoonlik by die hek groet nie.

Wanneer jy na donker tuiskom, sorg dat daar ’n buitelig aan is of vra iemand om jou by die hek te ontmoet. Die buurtwag sal meer as bereid wees om ‘n mens te help as jy in ‘n verdagte situasie is.

As jy klein kindertjies in die voertuig het en jy moet uitklim om die hek oop te maak, neem die motorsleutel saam met jou. Indien kapers jou voertuig probeer neem, kan jy ten minste die sleutel gebruik om te onderhandel en jou kinders uit te kry voor die kapers met jou voertuig wegjaag.

 

Wanneer jy wel gekaap word:

Gee jou samewerking. Jou enigste doel is om te bly lewe.

Dit klink dalk moeilik, maar probeer kalm bly. Die kaper gaan op jou reaksies reageer.

Erken die kaper se teenwoordigheid, moenie oogkontak maak nie en hou jou hande waar hulle dit kan sien. Indien jy oogkontak maak, sal hy voel dat jy hom sal kan uitken en dan is jou lewe in gevaar.

Maak seker jou kind se motorsitplek is agter die passasiersitplek. Dan is dit maklik vir jou om net jou arm agtertoe uit te steek en jou kind se gordel los te maak. Vermy dit om eers uit die motor te klim en dan om dit te stap om jou kind uit te haal.

Probeer om nie eerste uit die motor te klim en dan eers jou kind by die agterdeur uit te haal nie.

As jou kinders oud genoeg is, kan jy die kinderslot van jou deure afhaal en jou kinders aansê om hul gordel los te maak, uit die motor te klim en na ’n veilige afstand te beweeg.

Laat die kapers te alle tye weet wat jy gaan doen en moenie enige skielike bewegings maak nie.

Moenie die kaper dreig nie.

Los jou handsak, ensovoorts. Jou lewe is belangriker.

Beweeg weg van die toneel af.

 

Om ‘n “smash and grab”-situasie te vermy:

Waardevolle items moenie sigbaar in die kar wees nie. Sit jou handsak onder jou bene, onder jou sitplek of in die kattebak.

Vermy selfoon gebruik (ook jou passassiers).

Kyk rond vir mense wat by die pad staan, byvoorbeeld by verkeersligte.

Hou genoeg plek tussen jou en die voertuig voor jou.

Sluit jou deure.

Moenie jou ruite groot oopmaak nie.

Vermy swak verligte strate.

Laat installeer “smash and grab” film in jou voertuig.

 

kurumdsc_0047

Amelia Viljoen het haar persoonlike ervaring van ‘n kaping vertel. Dit was erg emosioneel vir die dapper vrou en elkeen van die lede teenwoordig.

 

kurumdsc_0022

Hierdie pragtige blomme kom uit lede se tuine en is ingeskryf vir die “Uit my tuin”-afdeling.

 

kurumdsc_0019

Die kookkuns kompetisie vir die maand was poeding in ‘n bottel. Die inskrywings was alte kleurvol en heerlik. Die wenners sal tydens die volgende vergadering aangekondig word.