Inspirerende Vrouedag Reuse Sukses

Sirkel:  Middelland

Tak:  Aberdeen

Beriggewer:  Lea van der Vyver

Datum:  14 September 2016

 

1-welkom       9-ontvangs

Welkom by ingang                                         Stephnie van Zyl en Heidi Lombard het gaste ontvang

Na maande van beplanning en voorbereiding breek die oggend van 14 September 2016 aan – Aberdeen VLV Intertak en Vrouedag, aangebied in die NG Kerksaal op dié dorp.  Ongeveer 110 vroue van verskeie dorpe trek saam om die inspirerende dag by te woon – Aberdeen, Graaff-Reinet, Jansenville, Klipplaat, Murraysburg, Rietbron, Steytlerville, Willowmore en selfs Port Elizabeth en Uitenhage.

 

2-verhoog

Tema “Leef” op verhoog uitgebeeld.

Die tema van die dag is “Leef!” en het ten doel om die lewe en vrouwees te vier deur na innerlike en uiterlike skoonheid te kyk.  Elkeen is uniek geskape en moet net die beste “jy” wees; nie probeer om soos iemand anders te wees of te lyk nie.

 

3-tafels

 

Die saal is pragtig versier in pienk, groen en hessian met ‘n lente vintage tema.  Daar is 12 stalletjies met ‘n wye verskeidenheid produkte wat tot die feestelike atmosfeer bydra.  Gaste ontvang ‘n gratis “Leef” tydskrif, geborg deur Media24, sowel as ‘n pakkie met saadjies.  Tee, koffie en muffins word ook met aankoms bedien en daar word heerlik gekuier.

 

Die program skop af met Lea van der Vyver (Voorsitter Aberdeen VLV) wat almal welkom heet en noem dat die tak in September 1932 gestig is en dus 84 jaar oud is.

 

Die opening word waargeneem deur Lynette Martin (President VLV Sirkel Middelland) wat vra of ons oorleef of werklik leef.  Vandag het besig- en moegwees ‘n statussimbool geword.  Word stil en besin wat God se plan is – dit sluit ook rus in.  Moenie ‘n sinvolle lewe prysgee vir ‘n gejaag nie- doen dit deur die 3 letters “nee” te gebruik, ipv die 3 woorde “ek is besig”.

 

4-lea-van-der-vyver           5-louise-cruickshank

Lea van der Vyver, Voorsitter, heet almal welkom.                                  Louise Cruickshank

 

Louise Cruickshank, geregistreerde berader, verhoudingsterapeut en aanbieder van nasionale en internasionale werkswinkels, het vroue diep geraak met haar praatjie getiteld “Facial for the Soul”.  Sy stel dit dat vrouwees ‘n roeping is en dat innerlike en uiterlike skoonheid verbind is – elegansie begin in die gedagtes en manifesteer dan na buite.  “Afskilfering” van die siel behels om nie emosies te onderdruk nie – dit wat ontken word, kan nie aangespreek word nie.  Stres is ‘n aanduiding van ‘n siel wat in die moeilikheid is en as jy negatief dink, sal jy ook negatief voel.  Ons moet ons nie bekommer oor wat ander dink of verwag nie, maar net onsself wees.  Die “masker” vir die siel is selfspraak – 90% van die tyd praat ons met onsself – is dit konstruktief of destruktief?  Die “bevogtiger” vir die siel is stiltetyd elke oggend.  Ons het nie beheer oor omstandighede nie, maar wel oor hoe ons reageer.  Ons gedagtes is kragtig – dit wat jy dink jy is, is wat jy is.

 

Daarna sing plaaslike talent Petro Marx haar hart uit met die liedjie “Neem My Op Vlerke” van Andriëtte Norman.

 

6-carlin-loots

Carlin Loots van HealthiSkin in Graaff-Reinet deel skoonheidswenke oor hoe om op jou beste te lyk.  Sy het reeds sedert 2001 haar eie salon en het al verskeie toekennings by Guinot ontvang.  Carlin meen die geheim is om dit waarmee jy geskape is vir jou te laat werk – jy moet in geheel mooi lyk en nie net klem lê op een aspek wat dan uitstaan nie.  Mense moet jóú kan sien – nie net bv oë, lippe of hare nie.  Verskeie pryse word uitgedeel aan vroue wat vrae reg beantwoord waarna die gehoor kans kry om hulle vrae te stel.

 

Carlin Loots van Healthiskin gee raad

 

Die program word afgesluit met ‘n verhoogstuk geskryf deur plaaslike talent Diane Nel en uitgevoer saam met Helena Polley en Martie Swanepoel.  Drie dames in die ouetehuis gesels, maar hulle koppe is nie meer helder nie.  Sulke persone bestaan eintlik net en het nie meer ‘n sinvolle lewe nie.  Ons moet egter almal daarteen waak – bestaan ons of leef ons werklik bewustelik en voluit.  Elkeen is uniek geskape en moet sy talente uitleef en ambassadeur van God wees.

 

7-willowmore-wenner

Willowmore, wenner van Intertak Trofee – vlnr Lea van der Vyver, Lynette Martin en Riëtte Fourie

Elna van Niekerk kondig die Intertak kompetisiewenners aan en Willowmore is die algehele wenner in die stryd, gevolg deur Steytlerville.

 

Daarna word verskeie gelukkige trekkings gedoen.  Die wenners van die lootjies vir ‘n naweek in The Tops Gastehuis in Wildernis, sowel as ‘n kunswerk deur Marguerite Beneke, word ook getrek.

 

Lea van der Vyver sluit af deur die borge en almal betrokke te bedank. Sy bedank ook haar “yster” spannetjie wat elkeen net ingespring het om haar deel te doen – almal het mekaar uitstekend aangevul om ‘n suksesvolle dag aan te bied.

 

8-kombuis

Kombuis – vlnr Luise de Jager, Elna van Niekerk, Lize de Jager, Annalie Lategan

Anette Deyzel (Vorige President VLV Sirkel Middelland) doen die tafelgebed voor ete en daarna maak die stalletjes weer oop terwyl almal heerlik kuier en gesels.