Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Sameroeper: Mariët van Niekerk
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 14 September 2016
Geen terugslag is te groot om met liefde, vertroue en deursettingsvermoë te bowe te kom nie. Die verhaal van ‘n perd wat blind geraak het en haar jong ruiter wat geweier het om haar perd te laat uisit, maar eerder voortgegaan het om aan kampioenskappe deel te neem en niks minder as 100% te gee en te aanvaar nie, klink tereg soos ‘n fliek.
Die inspirerende verhaal van Lady Domain, ‘n Amerikaanse saalperd en haar eienaar/ruiter, Chelsey Cooper, soos vertel deur Chelsey se ma, Annelie van Jaarsveld, het Acqua-lede met blink oë op hulle stoele vasgenael gehou. Dit is ‘n verhaal van onvoorwaardelike liefde, matelose wedersydse vertroue en deursettingsvermoë sonder einde. Lady Domain het intussen afgetree en neem nie meer aan kampioenskappe deel nie. Sy en Chelsey tree steeds op tot groot inspirasie van almal wat hulle storie hoor en hulle sien optree.
Annelie van Jaarsveld
Toe Lady Domain na ‘n val haar bewussyn herwin, was sy blind. Chelsey het besef dat sy haar perd se oë moes wees, maar daarvoor moes Lady Chelsey 100% vertrou. Hulle deursettingsvermoë het Lady en Chelsey tot oorwinning gelei toe hulle, soos voor die ongeluk, die South African Eventing Championship vir haar ouderdomsgroep gewen het. Dit terwyl Lady met hierdie kompetisie teen siende “normale” perde deelgeneem het.
Lady Domain en Chelsey
Lady laat niemand anders toe om haar te ry nie en Paulus Mabote is die enigste stalkneg wat sy naby haar verduur.
Die fliek, waarin Charlize Theron die rol van Annelie vertolk, se voorgenome titel is Through My Eyes en word in Hollywood en onder andere Port Elizabeth verfilm. Geen Acqua-lid, snesies in die hand, gaan hierdie fliek “ongehuil” verby laat gaan nie.
Acqua-lede het ‘n heerlike aand van samesyn gehad en was elkeen bederf met ‘n Eucheveria as funksie-gunsie.
Leave A Comment