Sirkel: Noordoos-Kaap

Tak: Jamestown – NOK

Studierigting: Gesondheid/Leefstyl &  Landbou

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 8 September 2016

 

Lede het die nuwe Spa op Aliwal-Noord besoek, waar Louise van Tonder en Charlene Lombard almal ontvang en geskenkpakkies uitgedeel het. Louise het vertel wat Velsorg behels en dat kinders so jonk as 5 jr reeds daarmee kan begin. Kweek van jongs af ‘n velsorgroetine aan – net soos met handewas, naelversorging en tandeborsel gemaak word. Velsorg is veral vir ouer vroue belangrik, wanneer die kollageenproduksie begin afneem. Velsorg behels dat die gesig gewas word, afskilfering vir dooie selle 2-3 keer per week, en dan ‘n dagroom met sonbeskerming en ‘n nagroom om die vel te voed. Sy het die vroue aangemoedig om la Riviera se Facebook-bladsy te besoek. Charlene het gepraat oor Kollageen, wat vanaf 25 jaar weer opgebou moet word teen plooie. ‘n Mens kan ‘n naaldrollertjie gebruik om mikro-gaatjies in die gesigvel te maak om velprodukte beter te absorbeer, en om kollageenproduksie te stimuleer.  Eet eerder gevriesde groente as vars, en drink baie water.  Verder het sy vertel van al hul dienste by die Spa, waar o.a. essensiële olies gebruik word om gewrigspyne te genees.

 

jamest

Louise van Tonder (links) en Charlene Lombard

 

Daarna het Christell interessante feite oor kruie gegee het, soos dat ‘n vrou nie kruie mag gebruik as sy swanger is nie, en dat dit nie vir kinders onder 2 jaar gegee moet word nie. ‘n Resep om vir ouerwordende honde te gebruik is die volgende: Meng ‘n Kwart koppie Alfalfa (lusern of klawer), 2 teelepels elk Pietersieliewortel en Borrie, en strooi dit oor die hond se kos.

 

Daar was ook ‘n bespreking van wat die beste is: ‘n e-boek of ‘n fisiese boek soos die Bybel? Albei het meriete! Die tak se grootdruk VLV-Bybel is terug ontvang van die huidige dame wat verhuis, en die nuwe ontvanger is Louw Venter, die oudste inwoner van Jamestown.

 

Vervolgens is ‘n vasvra oor SA se nasionale voël, die Bloukraanvoël, gehou waar lede geleer het dat die Xhosanaam vir die Kraanvoël “Indwe” is, en dat die voël se afbeelding op die 5c-munt verskyn. Die land waar die Kraanvoël die meeste voorkom (99%) is Suid-Afrika, en wel in die Wes-Kaap. Die Malva-blom se Engelse naam “geranium” kom van die Kraanvoël se Griekse naam “geranos”, omdat die malva se peule soos die voël se snawel lyk. Die Bloukraanvoël se neefs wat elders in die land voorkom, is die Mahem (“Crowned Crane”) en die Lel-Kraanvoël ( “Wattled Crane”).

 

Christell het haar program afgesluit deur te verduidelik  hoe die nuwe munisipaliteite gaan werk.