Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 3 September 2016

 

Vroegoggend se koue en reën, vlae en vlae reën, het niks gedoen om Acqua se Jaffelbak vir 2016 in die wiele te ry nie. Inteendeel. Niks kry die Kwa-Kwa’s onder as dit by die nederige ou maalvleisbroodjie kom nie.

 

45 kg maalvleis en 130 brode is Vrydag voorberei, sodat daar Saterdagoggend 10h00 weggespring kon word met die bakkery. Die broodjie het maalvleis gekry by die “boustasie”. Die “bakstasie” het pragtige, volronde jaffels aangestuur na die “pakstasie” en vandaar is die bestellings afgehaal.

 

Aan ywer en gees was daar geen gebrek nie. Daar’s gebou, gebak en gepak. Daar’s gesels, gelag en gewerk. 1226 jaffels in so ongeveer 6 en ‘n half ure wil gedoen wees.

 

Die “food and beverage manager” was weer op haar pos om te sorg dat algar hulle kragte behou. “Middle management” het jaffels gebak dat die korsies getrek het. Elke jaffel was ‘n meesterstuk en dit was “quality control” se verantwoordelikheid. Die “distribution manager” het gesorg dat elke jaffel baas kry en die “financial manager” het ‘n streng oog op die winsgrens gehou.

 

Jaffelbakdag 2016 het die seëninge jaffel vir jaffel laat inrol. Die tak kon so ongeveer R9000 in die spaarvark se pens druk. Die Kwa-Kwa’s het moeg, maar dankbaar, die son sien sak op ‘n suksesvolle fondsinsamelingspoging.

 

Acqua bo!

FB_IMG_1473165871235 FB_IMG_1473165882706