Sirkel:  Middelland

Tak:  Aberdeen

Portefeulje:  Gesondheid

Beriggewer:  Lea van der Vyver

Datum:  24 Augustus 2016

 

Na die lang wintervakansie vergader Aberdeen VLV op 24 Augustus 2016 by die klubhuis op die dorp.  Lea van der Vyver open met ‘n paar skrifgedeeltes uit die Woord wat ons leer dat die Gees van God in ons woon en dat ons Hom kan vra vir wysheid en leiding.  Sy sluit af met die volgende aanhaling uit die Leef tydskrif:  Ons liggame is nie ons vyand nie – ons moet onsself waardeer – ons is wonderlik geskape.

 

Lea van der Vyver gee ook kortliks terugvoering oor die VLVK Kongres in Port Elizabeth aan die einde van Julie 2016.  Die Kongres tema is ook die VLV tema vir die nuwe jaar, naamlik Aanpasbare Vroue, terwyl die fokus vir projekte in die nuwe jaar steeds “Gemeenskapbetrokkenheid – VLV Raak Plaaslik Harte en Hande” is.

 

Aberdeen bied op Woensdag, 14 September 2016 ‘n Vrouedag aan. Dit beloof om ‘n heerlike kuierdag te wees met die tema “Leef” waar die lewe en vrouwees gevier word.  Behalwe ‘n program wat aan innerlike sowel as uiterlike skoonheid aandag gee, sal daar ook heelwat stalletjies met handgemaake produkte wees.

    Uitnodiging na Aberdeen VLV Vrouedag

 

Samantha Jankovich van Graaff Reinet deel haar verhaal van diagnose tot genesing van borskanker, met die vergadering.  Sy verduidelik die verskillende fases van behandeling en die newe–effekte daarvan.  Lede vra ook vrae en neem deel aan die bespreking.  Die grootste les wat sy geleer het, is om nooit jou gesondheid as vanspelfsprekend te aanvaar nie – sy het geen groot risikofaktore vir borskanker gehad nie en dit het skielik uit die bloute gebeur.  Samantha het gedurende haar siekte ‘n blog geskryf wat sy op Facebook gedeel het.  Dit het haar in die proses gehelp om alles te verwerk waardeur sy gaan, maar beteken ook baie vir ander mense wat deur soortgelyke ervarings gaan.  Verder het die bystand van familie, vriende en die Graaff-Reinet Kankervereniging haar deurgedra, asook die feit dat sy werk gehad het wat vir haar gewag het en waarvoor sy gesond moes word.  Vandag is dit 5 jaar na die diagnose en sy is steeds skoon.

 

Vlnr. Stephnie van Zyl, Sameroeper Gesondheid met Samantha Jankovich, spreker oor borskanker.

 

Stephnie van Zyl deel ook inligting oor menopouse met lede.

 

Die vergadering sluit af met Stephnie van Zyl wat vertel van haar nuwe stokperdjie en sy wys die skilderye wat sy reeds gedoen het.