Sirkel: Kalahari

Tak: Vryburg

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Nellie Viljoen

Datum:  23 Augustus 2016

 

Dannie Oosthuizen het Vryburg VLV geïnspireer met haar pragtige kwiltwerk wat sy met sorg maak. Slegs materiaal van suiwer katoen word gebruik en sy kleur ook effekleurige materiaal in verskillende skakerings. Sy het verduidelik hoe om al die toerusting te gebruik, veral appli-web om materiaal op die agtergrond vas te stryk. Sy het voorbeelde van moderne kwiltwerk soos loodglas-, konfetti- en appliekwerk uitgestal.

Danny by haar handewerk.

 

Kleur van materiaal

Lady Dye kouewater kleursels: 1 rooi, 1 blou, 1 geel

(Mooi kleure is protea vir rooi, ocean of Clifton vir blou, daffodil of gold vir geel)

18 houers met skroefdeksels

18 stukke materiaal 50 x 50cm (in warm water gewas)

250 ml sout

1 x 5 liter houer

3 x 2 liter houers

Meng 5,5 l water, 250 ml sout en alle fikseermiddel in groot bak, los goed op.

Giet 250 ml van mengsel in elk van 18 houers.

Meng 1 pakkie van elke kleursel met 550ml warm water. Los goed op.

Merk houers. Meng volgens tabel om verskillende skakerings te kry.

Plaas stuk nat materiaal in elke bottel. Druk goed in kleurstof.

Maak bottels toe en skud goed.

Plaas onder swart plastieksak en laat staan oornag of minstens 6 uur.

Skud ‘n paar keer gedurende kleurproses.

Gebruik plastiekhandskoene en spoel materiaal goed uit.

Stryk met warm yster.

 

          

Haar eerste kwilt.                                                                                ‘n Moderne kwilt

 

Lanie du Plessis het gesels oor die eienskappe van Egiptiese katoen wat vir die maak van beddegoed, handdoeke en kussings gebruik word. Die lengte van vesels en die feit dat dit per hand geoes word, maak dit moontlik om materiaal van hoogstaande kwaliteit te vervaardig. Die vesels se vermoë om vog te absorbeer maak kleuring maklik. Draadtellings van 120-180 word vir huishoudelike gebruik aanbeveel, 200 vir liggewig perkaal, 400 vir gebruik in hotelle, 600 vir luukse beddegoed en 800-1000 vir ultra luukse beddegoed.

 

Egiptiese katoen

 

Marietjie Steyn beklemtoon dat die verouderingproses by mense 30% deur gene en 70% deur leefstyl bepaal word. Om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf, behoort ‘n persoon 30% van die daaglikse kilojoule inname as proteïne soos maer vleis, soja, neute en lensies in te neem. Vermy geprosesseerde koolhidrate en kies eerder volgraan en bone. Kies verteerbare vesel in brokkoli, wortels, hawermout, appels en piesangs en onverteerbare vesel in sade, bone en donker blaargroentes. Drink daagliks twee liter water om liggaamstemperatuur te beheer en spierkrampe en hardlywigheid te voorkom. Vitamine en minerale kom voor in olieryke vis, kaas, eiers, brokkoli en neute.

 

Foto A: Dannie Oosthuizen, Marietjie Steyn en Lanie du Plessis

 

  Die lootjie vir fondsinsameling was hierdie maand ‘n bottel Nederburg Cabernet

Daline Geere, Marietjie Steyn en Memory Scholtz was verantwoordelik vir die vergadering